Die Weg

 

Soos die kindertjies (liefde vir die waarheid)

Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.” - Matteus 18:3.

Kinders besit van nature 'n liefde vir die waarheid. In die opgroeiende leeftyd van tot so ses jaar, kom die sonde van die leuen wat in elke mens se hart sluimer, nog nie na bo nie. Daarom sien 'n mens opregtheid by kinders. Die spreekwoord sê nie verniet nie: “uit die mond van kinders sal jy die waarheid hoor”. Kinders sê altyd presies wat hulle bedoel. Hulle veins nie. Hulle is vry om te sê wat hulle wil en ontsien niemand nie. Die wêreld van geveinsdheid en hoflike onwaarhede is vir hulle nog onbekend. Hulle kan vir jou reguit in jou gesig sê wat hulle van jou dink!

Kinders het 'n aangebore, onbesoedelde sin vir waarheid. En nou bring die Heiland dit in verband met geestelike dinge en sê aan sy dissipels dat hulle soos kindertjies moet word. Julle moet met die waarheid beklee wees. Waarheid teenoor God en waarheid teenoor julleself.

Jesus Christus sê in Openbaring wat die ware toestand van die natuurlike mens is: 'Julle sê: “Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,” en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal.' (Open 3:17). Die natuurlike mens probeer altyddeur om sy ware toestand vir die Here te bedek. Dit hou aan totdat die Gees van die waarheid kragtig in daardie mens begin werk. Eers dan begin hy die leuen haat. Dan probeer hy niks meer wegsteek nie. Dan moet alles aan die lig kom, en kan hy sing:

Ek het bely, o HEER - in sielerou nie
my hart gegrendel of my mond weerhou nie.
Ek het bely wat my van U vervreem,
U het my skuld genadig weggeneem. 

Hierdie mens het soos 'n kind geword. Die sluier van leuens is geskeur en deur die flarde heen skitter die waarheid van God.

Die natuurlike mens is ook onopreg teenoor homself. Elke mens het op die bodem van sy siel 'n drang na geluk. Dit kom omdat ons uit 'n paradys afstam. Die kleine mensehart is nie tevrede met die grootste dinge nie. En dit sal nooit rus nie, totdat dit rus vind in God.

En wat maak die natuurlike mens nou? Hy gee aan sy hart wat na brood smag, nie brood nie, maar 'n klip (vgl Luk 11:11). Hy vul sy hart met dinge wat niks blywend inhou nie: die begeerte van die oë, begeerlikheid van die vlees en die grootsheid van die lewe. Is dit opreg?

Maar as die Gees van die waarheid in ons hart woning kom maak, dan word ons opreg. Dan haat ons die skyn en soek na God, die God van die lewe. Dan leer ons sê: “dit is vir my goed om naby God te wees” (Ps 73:28).  Dan het ons soos kinders geword.

Maar nou moet ons nie dink dat die sin vir die waarheid, die kinderlike opregtheid, altyd duidelik by God se kinders te sien is nie. Inteendeel, ons word baie keer weer deur die leuen verstrik omdat ons weer eens iets vir die Here gaan probeer wegsteek, óf vir onsself begeer wat nie tot ons vrede sal dien nie.

Daarom is dit vir ons nodig dat ons daagliks aan die woorde van Jesus herinner moet word: “julle moet verander en soos kindertjies word”.

Uit: Ds JH Landwehr: Christus is Alles
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css