Die Weg

 

Die las van ons afgeneem (2)

(Oor die bergrede – Matteus 5-7 / Lukas 6)

Toe slaan Hy sy oë op oor sy dissipels en sê: Salig is julle, armes, want aan julle behoort die koninkryk van God. Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Salig is julle wat nou ween, want julle sal lag.” - Lukas 6:20-21 (53-vertaling).

Ons kom nou by die tweede punt, naamlik, dat daar 'n hemelsbreë verskil is tussen die oordele van God en die wyse waarop ons mense veroordeel om met hulle “af te reken”. Veroordeling en straf is negatief, en maak 'n mens eerder siek as gesond. Wat help dit ons wanneer ons in oordeel en vergelding moet sê: “moenie teëstribbel nie, jy het daarvoor gesoek”, óf “boontjie kry sy loontjie”? Help hierdie tipe vergelding enigsins? Blykbaar nie! Dit stort jou net dieper in 'n gevoel van hopeloosheid wat jou innerlik verlam. Uiteindelik verwek dit die afgryslike en sondige wens om 'n einde aan alles te maak.

Regspraak help niks nie as dit net eindig by veroordeling en straf. Daarom is God nooit net die regter nie, maar saam met die oordeel, en te midde van die katastrofes in die beroeps-, persoonlike en gesinslewe, is Hy die God wat jou opsoek om vir jou die pad aan te wys as Heiland en Vernuwer.

So moet die saligsprekinge verstaan word: as 'n hand wat in ons leed en sorge na ons uitgestrek is om ons te wys dat God 'n plan met ons het en ons wil lei na 'n doel wat ons uiteindelik van vreugde sal laat huil.

Almal van ons ken die uitsiglose ure waartydens ons op die vleuels van drome wou probeer om uit die hede te ontsnap. Die oumense droom van hul jeug toe alles anders was, en die jongmense droom van die toekoms, waarin alles anders sal wees. Maar is dit saligheid?

Jesus sê vir ons iets heel verskillend wanneer Hy mense “salig” noem. Want Hy praat juis met hulle wat vasgeklem is deur die lewe. Die armes, dié wat versaak is, dié met 'n donker verlede, die treurendes, die vervolgdes, dié wat kwyn van honger en dors. Hoekom noem Hy hulle salig? Kan daarin nie 'n wrede ironie lê nie?

'n Mens mag die saligsprekinge nie los sien van Hom wat dit uitgespreek het nie. Jesus wys met al hierdie woorde na Homself. En as ons dit vandag uit sy mond hoor waar Hy tot die regterhand van die Krag verhoog is en uit sy ewige heerlikheid op ons neerkyk, dan wil hierdie saligsprekinge vir ons sê: “Salig is julle omdat ek in julle midde is. Ek het self deur diep lyding gegaan. Ek het Godverlatenheid ervaar. In wat Ek gely het, het Ek die ware aard van my sending gevind. By die bittere beker wat Ek tot die laaste druppel moes drink, het ek geleer om te sê: 'Laat nie My wil nie, maar U wil geskied'. Maar toe My gefolterde liggaam dit nie meer aan die kruis kon hou nie, was die hand van die Vader opeens onder my om My op te vang en my gees weg te voer uit die pyn. Dit is die eerste saligheid: dat ek só tussen julle is, en dat Ek julle, omdat julle smarte ly, ook tot my saligheid wil lei.

Ons moenie dink dat Jesus aan ons 'n paar lewenswyshede wil leer nie; dat Hy van die seën van lyding en armoede wil praat en ons daarmee wil troos dat 'n mens deur lyding ryper word nie. Jesus weet al te goed dat dit ook anders kan verloop: 'n mens kan daaronder breek; in plaas van na gebed, kan dit 'n mens tot vloek dryf. Nee, deurdat Hy hier is, deurdat Hy in ons midde is, kom Hy nie na ons as leeraar nie, maar as Heiland. Dan hoor ons nie net woorde, woorde, woorde nie, maar gebeur daar iets met ons.

Want nou het ons die Heiland se handtekening, die waarborg, wat met bloed geheilig en beseël is, dat die hemel vir ons geopen is. Selfs as alles om ons heen geslote is, wanneer daar geen vooruitgang, geen toekoms, geen uitgelatenheid meer in ons lewe sou wees nie, bly die hemel vir ons oop. Ons het sy waarborg dat alle dinge tot ons beswil sal dien, en dat ons leë hande geseënd sal wees lank nadat dit alle menslike inhoud en vertroosting verloor het; dat die ergste sondaar getroos sal word nadat die laaste illusie van eiewaarde van hom ontneem is, sodat God nou die eerste plek in sy lewe kan kry. Ons wat niks meer in die hande het nie, sal ervaar hoe die Vader vir ons alles in die lewe is. Ons sal ervaar met hoeveel sekerheid ons, aan God se hand, die onsekerheid van die volgende dag kan binnegaan. Ons sal ervaar hoe Hy in alles sal voorsien: vertroosting in droefheid en brood op die tafel vir dié wat gebrek ly. Maar dan ook net op dié voorwaarde dat ons ons lewens aan God toevertrou.

Wie dit sal waag om in die naam van hierdie wonder, in die naam van hierdie geopende hemel te lewe, hy sal die heerlikheid van God sien. In die donkerste nag van sy lewe sal hy die vertroostende sterre van God bo hom sien skyn. Kinderlik sal hy uitsien na die volgende môre waarop die Vader hom met Sy verrassings tegemoet sal kom. Want God is altyd positief en maak alles nuut.

Salig is julle” – nie omdat die heimlike droom van die Vaderland en beter tye ons nie ontneem kan word nie, maar ons word salig genoem omdat die deur gewis en seker oop staan en die Vader sy hand na ons uitstrek – omdat die Een tussen ons staan wat in die Naam van die Vader gekom het en die “salig is julle....” verkondig. Ja, meer nog: dit volbring het.

Uit: Helmut Thielicke - Das Leben kann noch einmal beginnen (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css