Die Weg

 

Die las van ons afgeneem (1)

(Oor die bergrede – Matteus 5-7 / Lukas 6)

“En Hy het met hulle afgeklim en op ‘n gelyk plek gaan staan, en daar was ‘n skare van sy dissipels en ‘n groot menigte van die volk van die hele Judéa en Jerusalem en die kusstreek van Tirus en Sidon af, wat gekom het om Hom te hoor en van hulle kwale genees te word; en die wat gekwel was deur onreine geeste, is ook genees. En die hele skare het probeer om Hom aan te raak, omdat krag van Hom uitgegaan het, en Hy het almal gesond gemaak. Toe slaan Hy sy oë op oor sy dissipels en sê: Salig is julle, armes, want aan julle behoort die koninkryk van God. Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Salig is julle wat nou ween, want julle sal lag.” - Lukas 6:17-21 (53-vertaling).

Toe Jesus gaan staan en na die menigte van mense kyk, het hy iets gelees in die baie oë wat op Hom gerig was. Wat Hy gesien het was 'n mengelmoes van hoop en vrees, van angs en heimlike verwagting. Om Hom was mense: ellendiges, treurendes, met skuld belaai, vereensames, met ongeneeslike siektes, bekommerdes en dié wat ronddobber in hul lewensangs. Hulle was almal hier versamel, want soos 'n magneet trek Hy die sondaars en lydendes uit hul skuilhoeke na Hom toe aan. By hierdie Persoon het hulle immers iets bespeur wat hulle by geen ander mens teëgekom het nie.

Op 'n gegewe oomblik sien hulle, en ons almal, dat Hy tussen ons staan, asof Hy een van ons is. Hy is in staat om die aanblik van soveel smart te verduur. En Hy doen dit nie soos die vernames in hierdie wêreld nie: hulle wat in hulle villas terugtrek om nie die ellende van die wêreld raak te sien nie; wat hul gewetes probeer sus deur 'n bedrag geld aan welsynsorganisasies te skenk; wat die gevoellose geld maar die werk laat doen en te bang is om met hul harte betrokke te raak; wat hul oë toeknyp vir die ellende van ander.

Daarom is die mense dankbaar teenoor die Heiland dat Hy hulle in hul ellende besoek en nie sy oë sluit as die menigtes met hul leed na Hom toe kom nie. Maar terselfdertyd sien hulle iets aan Hom wat nog onbegrypliker is: dat die magte van skuld en leed geen vat aan Hom kan kry nie en geheimsinnig voor Hom die wyk moet neem. Inderdaad moes Hyself die duiwels se aanvegtinge in die woestyn deurstaan, sodat Hy in alle opsigte aan die mens gelyk kon word. (En so was dit ook aan die kruis. Ook dáár is die kloue van fisiese pyn en die angs van Godverlatenheid in hom ingeslaan. Maar ook daar het Sy Gees die moordende kloue verbreek sodat Hy die weg na die Vader se hande kon vind.)

So soek almal Sy nabyheid op. Met innige verlange kyk hulle na sy hande, wat net goed kan doen en nie moeg word om te seën en te genees nie. Maar nou rus sy hande en begin hy te praat. En wat Hy sê kom vir hulle onverwags en laat hulle vol verbasing, want Hy sê: “salig is julle”, tot hulle wat hul in hul leed, ellende en skuld om Hom geskaar het. [Die bergrede sluit met die  opmerking dat die mense verslae (ontsteld) was oor sy woorde (Mat 7:28), alhoewel dit 'n woord van genade was.]

Wanneer Jesus egter oor sonde en berou praat en ween oor Jerusalem wat nie wou erken wat goed is vir hom nie, dan doen Hy dit met trane in sy stem. Jesus treur nie alleen omdat dit sy volk is wat so onafwendbaar die afgrond tegemoet gaan nie, maar omdat Hy die mag van verleiding, die bedrieglikheid van die duiwel ken. Die verleier wat ook dié wat sedelik sterk staan, die gehoorsames, die welvoeglikes en fatsoenlikes aan die kraag kan pak en hulle, sonder dat hulle dit besef, met sy liste en leuens die afgrond kan insleep.

Die harde woorde van oordeel wat die bergrede uitspreek, ontmasker die diepste geheimenisse en drifte van ons harte. Maar dit is uitgespreek deur die Heiland, wat ons midde in die oordeel toeroep dat ons “salig” is; wat nie vir ons “wee jou” toeslinger nie, maar ons in die Vaderhuis innooi. Dit is deur 'n Heiland uitgespreek wat nie sy hand in 'n vuis gebal het nie, maar dit tot seën geopen het, en in die seën ons die littekens toon wat Hy om ons ontwil ontvang het.

(Word vervolg)

Uit: Helmut Thielicke - Das Leben Kann Noch Einmal Beginnen (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css