Die Weg

 

Wanneer jy die wind van voor kry

“En Hy het gesien dat hulle swaar kry met roei, want die wind was teen hulle.” - Markus 6:48.

Soms kla mense dat hulle nie vorentoe kan gaan nie, dat die wind teen hulle is. Ook jy voel dalk ontsteld en bekommerd oor dinge wat teen jou werk; wat na jou mening ongewens is in jou lewe. Na jou mening? Is dit nie presies waar die geheim van die saak lê nie? Volgens jou mening !

Markus, daardie praktiese jong visserman, beskryf in Markus 6:48 'n bootreis oor die meer van Galilea waar die wind teen hulle was. Hulle wou vinnig voortvaar. As hulle dit reggekry het, sou hulle daardie aand ver gewees het, ver van die oewer af, ver van Jesus af. Maar Jesus het daardie selfde teëwind wat hulle vooruitgang gestrem het, gebruik om hulle oë vir hulle oop te maak. Ons lees verder: “En Hy het by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê; en hulle was by hulleself uitermate verbaas en verwonderd. Want hulle het by die wonder van die brode nie verstandig geword nie” (Mark 6:51-52). Volgens hulle mening was die wind teen hulle; was die wind ongewens. Volgens hulle mening moes die wind draai. Maar in werklikheid was dit hulle wat moes draai! Die wind was teen hulle omdat hulle teen die wind was!

Is die wind teen jou, of is jy teen die wind? Dít wat vir jou kommer, sorg en moeite veroorsaak - is dit alles ongewens en nutteloos?

Hoe anders kon jou lewe gewees het as dit nie daar was nie? Dit werk stremmend in op jou en vertraag jou vooruitgang. Jy wou so graag die betrekking gehad het, maar jy het dit nie gekry nie. Jy wou gesondheid gehad het, maar nou is jy siek. Jy het voorspoed gesoek, maar teëspoed is jou lot. Veroordeel jy dit as teëwinde, of sien jy die hand van God daarin? Vir die dissipels was dit 'n teëwind wat net moeite ingehou het omdat hulle te kortsigtig was om enige nut daarin te sien. Vir Jesus was dit passaatwinde, want dit het die dissipels na Hom toe gedrywe.

Winde, storms, ja! Maar teëwinde? Nee! Teëwinde alleenlik as jy teen die wind is. Dit is passaatwinde om jou na Jesus te voer!

Ruwe storme breek in woede,
alles om my heen is nag;
tog hou God my in sy hoede,
Hy hou vir my heil die wag.

Watter lot, óf dood óf lewe,
smaad of eer my hier ooit wag,
Jesus sal my nooit begewe -
is ek swak, by Hom is krag.

Guns van mense, raad van vriende,
laster van die kwaadgesinde,
hoogte, diepte, vreugde of rou
niks ontruk my aan Gods trou!

Ds John Murray du Toit: Terwyl die ketel kook (1946). (Effens aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css