Die Weg

 

Sonder vrees in die dal van doodskaduwee

Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” - Psalm 23:4 (53-vertaling).

Psalm 23 is 'n kostelike kleinood. Dit is kort, maar ryk aan inhoud. Dit is 'n lied vol sekerheid en vertroue. Dit sing van gebrek en oorvloed, van onheil en rus, van vrees en vertroosting. Dit getuig van 'n dal van doodskaduwee en teëstanders, maar ook van spore van geregtigheid en van 'n troue Herder.

Dit is 'n heerlike psalm. Dit verhoog die vreugde van dié wat bly is en dit stort troos en verkwikking uit in die harte van die verdruktes.

Die dal van doodskaduwee is ten eerste 'n beeld van die gevare en benoudhede waarin die kind van God soms verkeer. Ons lewensweg gaan immers nie altyd oor hoogtes van vrede nie, maar soms ook deur dieptes van lyding en verdrukking. Vrees beklem so dikwels ons hart en onheil vergesel ons so menigmaal op ons lewensweg, dat die beeld van doodskaduwees op ons lewensreis nie vergesog is nie.

Maar ten tweede sien die dal van doodskaduwee ook op die eintlike doodsvallei. Al word baie mense dikwels doodsgevare bespaar, hier by die dal van die dood gaan nie een verby nie. Hoe verskillend ons weë ook al mag wees, almal loop uit op die doodsvallei. Vroeër of later moet elkeen daar deur: oud en jonk, gesond en sieklik, ryk en arm.

Die gedagte om deur die dal van die dood te gaan, vervul sommige mense met vrees, ander met huiwering. Vrees en huiwering! Geen wonder nie, want die dood is die loon van die sonde. Dit bring skeiding met wie en wat vir ons dierbaar is. Dit beteken dat ons siele ontklee word, soos die apostel Paulus dit uitdruk, en dat ons liggame aan ontbinding oorgegee word.

Vrees omklem die harte van sommige mense as hulle aan die dood dink. Siddering gryp hulle aan, want deur die donkere dal moet hulle alleen gaan, sonder reisgenoot, sonder hulp, sonder troos. En aan die einde van die doodsdal is daar geen lig nie, net ewige duisternis.

Huiwering gaan deur die hart van ander as hulle dink aan die doodsvallei, maar geen vrees nie. En waarom slegs huiwering, maar geen vrees en angs nie? Omdat hulle die dood in ewigheidslig sien en anders daarteenoor staan as dié wat dit met vrees tegemoet gaan. Vir hulle is die dood geen dood meer nie, maar slegs 'n deurgang van hierdie lewe van onvolmaaktheid na die volle lewe in heerlikheid. Hulle het tevore reeds gesterwe toe hulle deur God se genade die oue mens van sonde afgesterf en opgestaan het in 'n nuwe lewe. Die skrik van die dood is vir bulle oorwin deur Christus Jesus en daarom geen vrees meer nie, maar alleen huiwering. Daarom roem hulle in die aangesig van die dood: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” Geen vrees nie, want U is met my.

U is met my. Waar God die Almagtige en Barmhartige is, daar is alle vrees misplaas. Waar God is, is geen nood en geen gevaar nie. Ook nie in die dal van doodskaduwee nie. Trouens, die doodsvallei met God is veiliger as die lewe sonder God. Waar God is, is daar geen nag, geen donkerheid meer nie, selfs nie in die dal van die dood nie. Wel skaduwee, maar geen duisternis nie. Wel huiwering, maar geen siddering nie. Daar is skaduwee juis omdat daar lig is, want waar geen lig is nie, kan daar geen skaduwee wees nie. In die doodsvallei is lig vir die gelowige, omdat die Son van Geregtigheid, die Lig van die wêreld daar skyn.

Geen vrees vir die doodsdal nie, omdat God ook daar is. Hy lei ons daarheen en daardeur. Aan sy hand is ons veilig, selfs in die kloue van die dood. Die geestelike booshede in die lug, die magte van die hel - niks kan ons uit sy liefdesgreep ruk nie, Deur die dal van die dood is Hy by ons met sy vertroosting. “U stok en u staf die vertroos my”, sê die psalmdigter.

Die stok en staf is die beeld van die leiding en sorg van die goeie Herder vir sy skape wat van alle kante deur die dood bedreig word. Hy wat op God vertrou, is nooit sonder troos nie, nie alleen in dae van droefheid en gevaar nie, maar selfs in die aangesig van die dood. God met ons. Is daar 'n heerliker troos? Met God veilig in nood en dood. Hy lei ons deur alles heen om te kom in die Godstad waar daar geen skaduwees en geen nag meer is nie, waar daar geen son en geen maan meer nodig is nie, maar enkel lig, ewig en altyd, die lig van God se heerlikheid.

Ds Joh Dreyer: Troos in Droefheid (1936)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css