Die Weg

 

Hulp in tyd van nood

“Het julle oë en sien julle nie? En het julle ore en hoor julle nie? En onthou julle nie ....... “ - Markus 8:18-19.

Dit is nie onredelik nie om te verwag dat enigiemand wat oë het, die pragtige skilderye sal kan sien en waardeer wanneer hy deur 'n kunsgalery loop. Waarvoor het hy dan oë gekry, as hy nie daarmee kan kyk nie? En dit was ook nie onredelik dat ons Here van sy dissipels verwag het om sy geestelike onderwysings te verstaan nie. Hulle het die vermoë gehad om die geestelike dinge te kon waarneem. Met hulle eie oë het hulle dinge sien gebeur, met hulle ore het hulle gehoor, en tog........ ?

Sommige mense leer nooit om iets moois met hul oë raak te sien nie. Hulle sal op 'n somersdag deur die veld loop en nie die skoonheid van die klein dingetjies raaksien nie. In die lieflike wilde blommetjies en elke jong grashalmpie is daar genoeg skoonheid om jou hart te bekoor. Dit is nog meer van toepassing op die geestelike sake: ons beweeg ons in 'n wêreld wat gevul is met die heerlikheid van God se liefde. Maar sien ons iets raak van hierdie onbeskryflike prag? Op sy beste kyk ons met 'n dowwe bril na die wêreld om ons. Behoort ons nie ons oë te oefen om God se wonders raak te sien nie ?

Die dissipels het nóg 'n wonderlike vermoë gehad wat hulle nooit gebruik het nie. Dit was hulle geheue. “Onthou julle nie?” Hulle het so baie wonderwerke gesien en hulle sou dit definitief goed kon onthou, maar die geestelike lesse wat hulle daaruit geleer het, dié het hulle vergeet. Hulle het die geestelike betekenis van die wonderwerke vergeet.

Ons is maar almal geneig om dieselfde te doen. Ons onthou dalk die dinge wat God in die verlede vir ons gedoen het, maar ons vergeet die lesse wat ons daaruit kon leer. Ons mis die voordeel wat ons uit ons ondervindings kon trek. Elke keer wat ons uit gevaar gered is, elke keer wat Hy ons gehelp het toe ons in nood verkeer het, behoort as 'n les van vertroue in die Here op ons hart geskrywe te wees. As ons weer in soortgelyke omstandighede van nood of gevaar beland, moet ons dus nie vreesbevange raak nie. Ons moet dink en onthou hoe God ons in die verlede gehelp het en glo en vertrou dat Hy ons weer op dieselfde manier tot hulp sal kom.

J.R. Miller: Come ye Apart
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css