Die Weg

 

Verlore, gesoek, gevind, vreugde (1)

Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.” Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis: “Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry. En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers. As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’ Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.” - Lukas 15:1-7.

Verlore

Die selfgenoegsame teoloë van daardie tyd het vir Jesus erg gekritiseer. In hulle eie oë was dit verkeerd dat Jesus omgang met tollenaars gehad het. Hulle het onder mekaar gemurmureer en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.

Dit is as antwoord hierop dat Jesus die drie gelykenisse vertel. Die eerste handel oor die verlore skaap. Met hierdie verhaal wil Jesus dit duidelik maak waarom Hy na die aarde gekom het, naamlik: “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.” (Luk 19:10).  Daarom vermy Jesus nie die gemeenskap met die sondaars en tollenaars nie.

'n Skaap het 'n goeie herder nodig,  anders is hy verlore. Anders as 'n hond of 'n perd, het 'n skaap geen oriëntasievermoë nie. Hy kan nie alleen sy pad terugvind na die herder nie. Hy dwaal weg van die groen weiveld en verhonger terwyl die dood oral vir hom lê en loer.  

Jesus vergelyk ons hier met skape wat wegdwaal. Dit gebeur met ons omdat ons ons oë nie altyd op God gevestig hou nie. Ons wil Hom en sy Woord nie glo nie en dit nog minder erken as rigsnoer en maatstaf van ons lewens. In plaas daarvan om ons Skepper te dank en te eer omdat Hy aan ons die lewe geskenk het en ons tot vandag toe onderhou, gaan ons voort om ons eie weg te volg. Ons dink dat ons alles beter weet as Hy. Dit het begin in die tuin van Eden en dit is vandag nog só.

Met ons skeiding van God kom daar 'n groot leegheid in ons harte. Ons leef nie meer vir dít waarvoor ons bestem is nie. En so probeer ons ons harte vul met wat die wêreld ons kan bied, ons gesondheid en skoonheid te aanbid en onsself tot die middelpunt van die heelal te verhef. Óns wil gedien wees. Ons leef ver van God en vra dan terselfdertyd hoekom daar so baie vyandskap, konflikte en angs in die wêreld is.

Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop” (Jes 53:6). En dit is baie gevaarlik. Wanneer 'n ondier die verlore skaap vind, is dit verby met hom. Dit is slegs 'n vraag van tyd voor dít gebeur.

Ons bevind ons op 'n gevaarlike pad. Op 'n dag sal ieder van ons voor die regterstoel van God  verskyn en rekenskap van ons lewe moet gee. En terwyl die dood die loon van die sonde is, voer ons dwaalspoor ons onvermydelik na die ewige verderf.

Omdat 'n skaap wat afgedwaal het sy eie weg volg, het hy geen hoop nie. Ek is bevrees dat baie skape nog nie 'n besef het van die haglike toestand waarin hulle verkeer nie. Hulle blêr vrolik voort, swerf rond en dwaal al verder weg. Maar om die gevaar te ontken, beteken lank nie dat dit nie bestaan nie. Meer as een skaap dink aan niks anders as sy vermeende vryheid nie. Die vrae oor die ewigheid kom nie by hom op nie of word opsy geskuif.

Die eerste boodskap wat Jesus met hierdie gelykenis gee is: Ons het almal afgedwaal en ons bevind ons in groot gevaar. Sonder God is ons vir ewig verlore.

(Word vervolg)

P Christian Wegert (Das verlorene Schaf) (Effens verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css