Die Weg

 

Die enigste weg

En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword.” - Hebreërs 5:9.

Op 'n dag het 'n motoris by 'n voetganger stilgehou en vir hom gevra hoe om by 'n sekere plek uit te kom. Nadat die man vir hom die pad beduie het, vra die motoris: "Is dit die beste manier om daar te kom?", waarop die man antwoord: "Dis die enigste manier."

Daar is net een manier om gered te word. Jesus het gesê: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie." (Joh 14:6). Die laaste uitnodiging in die Bybel lui: 'Die Gees en die bruid sê: “Kom!” En elkeen wat dit hoor, moet sê: “Kom!” En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!'  (Open 22:17).

Ons is nou in genade-tyd. God se aanbod van vergifnis en 'n nuwe lewe hou nog stand. Die deur gaan egter ééndag toegemaak word. Dan gaan dit te laat wees. Dis waarom die Bybel gedurig waarsku: “Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding” (2 Kor 6:2). Ons verkondig die evangelie en nooi mense om die genade van die Here Jesus Christus te leer ken, want die genade-tyd is nog nie verby nie. Toe die vloed gekom het, was Noag veilig in die ark. Hy het God vertrou en Hom op sy woord geneem. Jy kan ook sekerheid kry vir jou lewe deur te glo en te aanvaar dat Christus aan die kruis gesterf het vir ons sondes en opgestaan het vir ons regverdigmaking. Vir ons wat gered word, is dit die krag van God tot saligheid (Vgl 1 Pet 1:5).

Dit mag dalk bitter min sin maak vir hierdie sterwende wêreld, maar vir dié van ons wat Christus ken, is dit 'n bron van geweldige krag en heerlike vrede. Ken jy hierdie vrede? Jy kan dit vandag nog ervaar deur berou te hê oor jou sondes en Christus te aanvaar en lief te hê as jou Here en Verlosser. En jy kan dit sommer daar doen waar jy nou is, al is jy ook waar in die wêreld.

Gebed: Ons Vader en ons God, ek wil Jesus volg met my hele hart. Ek weet Hy is die enigste weg na U en die ewige lewe. Maak my getrou en vasberade sodat ek nie sal swig voor versoeking en die kwaad nie. Dankie vir Jesus Christus wat aan my vrede gee en deur wie ek bid. Amen.

Uit: “Na hoër hoogtes” deur Billy Graham. Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css