Die Weg

 

Vergenoegdheid

“Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is.” - Filippense 4:11 (53-vertaling).

Om vergenoeg te wees beteken nie net om tevrede te wees met ons omstandighede, óf selfs daarin te berus nie, maar om gelukkig te wees daarmee. Die lewenspad van die apostel Paulus was nie met blomme bestrooi nie maar tog, onder al sy beproewings, was die genade van die Here vir hom genoeg.

Vergenoegdheid is:

Om vreugde uit jou omstandighede te put. Iemand wat soos die apostel Paulus praat, is waarlik gelukkig. Onvergenoegdheid is die oorsaak van diepe ongelukkigheid in ons hart. En hoe dikwels word ons deur hierdie sonde oorrompel! Ons koester begeertes in ons hart en as daardie begeerte nie vervul kan word nie is ons diep ongelukkig. As dit wel vervul word, is ons spoedig weer onvergenoegd, omdat dit dalk nie is soos ons dit verwag het nie, of omdat ons weer iets anders begeer. Een van die groot Engelse skrywers het gesê: “As ons iets begeer, bekyk ons dit van die mooiste kant! As ons dit het, bekyk ons dit van die lelikste kant."

'n Kenmerk van ware dissipelskap. Die rede waarom Paulus tevrede en gelukkig was met sy omstandighede, was omdat hy 'n getroue volgeling van Christus was. Hy het van die Meester geleer om nie die dinge van die wêreld te oorskat nie - om nie 'n oordrewe waarde aan tydelike dinge te heg nie - om nie 'n lewensideaal te hê om aardse skatte te vergader nie. Daarby was hy ootmoedig en het selfs die geringste gawe uit die hand van die Here, met dankbaarheid ontvang. Waarlik, dit is slegs 'n dissipel van Jesus wat daartoe kan kom om soos Paulus te sê: “Ek het geleer om vergenoeg te wees."

'n Erkenning van God se liefde. Paulus was ook tevrede en gelukkig omdat hy oortuig was van die wysheid van die hemelse Vader wat oor die lot van elke mens beskik. Hy het geglo dat wat ook al oor sy weg kom, dit deur die liefdevolle hemelse Vader bepaal is, en dus vir hom die beste is.

Mag die Here ons genade gee om, soos Paulus, die groot skat van vergenoegdheid te ontvang.

Ds F S Malan: Lig vir die lewenspad
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css