Die Weg

 

'n Lewe deur gebed (1)

En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na ‘n eensame plek vertrek en daar gebid.” - Markus 1:35.

Gebed is die Christen se grootste hulpmiddel, en die een wat die minste gebruik word. Hoe is ons gebedslewe? Het ons behoefte aan gebed? Die Here Jesus was vir ons in alle opsigte 'n voorbeeld van hoe ons gebedslewe moet wees.

As jy die vier Evangelies lees, dan is dit duidelik dat Jesus gereeld gebid het. Ons sien dit in die aanhaling hierbo (Mark 1:35). Jesus het nadat Hy die vyfduisend man van kos voorsien het, alleen na die berg gegaan om te bid. (Mark 6:46).  Dan vertel Lukas vir ons dat Hy Hom altyd in eensame plekke teruggetrek het om te gaan bid (Luk 5:16). Dit was na 'n gebed dat een van sy dissipels vir Hom gesê het: “Here, leer ons bid” (Luk 11:1). Johannes het vir ons die aangrypende Hoëpriesterlike gebed van die Here Jesus vir ons opgeteken (Joh 17) waarin die verhouding van Jesus met sy Vader duidelik na vore kom.

Dit is ook baie duidelik dat Jesus altyd voor groot gebeurtenisse in sy lewe tot die Vader gebid het. Voordat Hy sy openbare bediening begin, bring Hy veertig dae en veertig nagte deur met vas en gebed (Mat 4). Voor die kiesing van sy twaalf dissipels bring Hy 'n nag deur in gebed (Luk 6: 12-16). Voordat Hy die bo-vertrek verlaat om gevange geneem te word, bid Hy die aangrypende Hoëpriesterlike gebed (Joh 17). Voordat Hy sy smartlike kruisweg betree, bid Hy in Getsemane (Mat 26:39). En voordat Hy sterwe, bid Hy aan die kruis (Luk 23 : 46).

Dit blyk dus uit sy optrede dat daar in die lewe van die Here Jesus dikwels tye was dat daar by Hom 'n onweerstaanbare drang was om te bid. Hy het krag daaruit geput waarsonder Hy nie kon lewe en werk nie.

As dit waar was van die Meester, dan seker ook van sy volgelinge. As Ananias na Paulus gestuur word, pas na sy bekering op die Damaskuspad, is dít die woorde van die Here aan Ananias: “Kyk, hy bid” (Hand 9 : 11). Dit is asof die Here hiermee juis die opregtheid van Paulus se bekering wil boekstaaf. En so kan 'n mens verwag dat daar in die lewe van die gelowige altyd 'n drang tot gebed sal wees. Gebed is nog altyd die asem van die siel genoem en die biddeloosheid van ons tyd is voorwaar 'n aanklag teen ons geloofslewe.

(word vervolg)

Dr E.P.J Kleynhans: Uit die Woord  (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css