Die Weg

 

Om 'n anker in die lewe te wees (1)

Maar Rut sê: Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God.” - Rut 1:16.

Na al die smart wat Naomi op die velde van Moab gely het, is sy op die punt om na haar geboortedorp, Bethlehem, in Juda terug te keer (Rut 1:1-7). Sy gee aan haar twee skoondogters die geleentheid om in hulle geboorteland, Moab, agter te bly. Orpa aanvaar die voorstel, maar Rut wys dit met beslistheid van die hand. Sy dring daarop aan om saam met haar skoonmoeder na Betlehem te gaan. Haar woorde aan Naomi is van die bekendstes in die Skrif: “Waar u gaan sal ek gaan; en waar u vertoef sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God."

Hierdie woorde getuig van 'n wonderlike liefde tussen twee mense en die besondere band wat hulle bind. Watter skoonmoeder en skoondogter kan in een huis saamwoon? In baie gevalle kan hulle glad nie met mekaar klaarkom nie. Met Naomi en Rut was dit nie die geval nie. Hulle het saamgebly, en in daardie huis het Rut in haar skoonmoeder iets gevind wat sy vir haarself ook begeer het. Ons moet onthou dat Rut as Moabitiese vrou buite die kring van God se Verbond met Israel gestaan het en dat sy na alle waarskynlikheid 'n heiden was toe sy Naomi se skoondogter geword het.

Maar in die jare van hulle saambly het sy ook die God van Israel leer ken, en wel uit die lewe van Naomi. Hierdie moeder was, dalk heeltemal onbewus, as gelowige so 'n voorbeeld vir haar skoondogter, dat Rut haar aangetrokke gevoel het tot haar skoonmoeder se godsdiens en God. Vandaar haar woorde: “U God is my God.

Wat was dit wat Rut so aan Naomi gebind het, dat Rut kon sê: “Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God.

Naomi se godsdiens was vir haar 'n ANKER te midde van lyding.

Daar in Moab moes Naomi haar eie lydensbeker herhaaldelik drink. Watter groot smart het sy nie verduur nie! In Moab het sy by die graf van haar man gestaan, en later ook haar twee seuns daar begrawe. As sy later na jare van eensaamheid, smart en rou, in Bethlehem aankom, is die bekendes van vroeër verslae en roep hulle in stomme verbasing uit: Is dit Naomi? Sy, die aanvallige, die lieflike onder die vroue (dit beteken die naam Naomi) het nou Mara (bitterheid) geword. Sy het veel bitterheid in haar lewe ondervind en deurstaan.

En tog het sy staande gebly. Sy het nie in wanhoop en vertwyfeling ondergegaan nie. Sy het moedig en sterk gebly. Dit, so het Rut by haarself geredeneer, is meer as wat 'n mens in eie krag kan doen: Naomi moet 'n anker, 'n bron van krag en bemoediging in haar lewe hê, 'n Hand wat haar ondersteun en dra te midde van lyding en beproewing. So 'n godsdiens wat in die dag van storm en stryd 'n anker is, is n begeerlike godsdiens. So 'n God wat in die dag van nood 'n werklikheid en hulp in benoudheid is - Hy is waardig om gevolg en aanbid te word! En daarom kan sy sê: “U God is my God”.

Ons as Christene moet anders wees as die wêreldling, anders ook in die sin dat ons kan lofsing in die nag en glimlag te midde van smart en lyding, omdat ons 'n God ken wat in ons alledaagse lewe 'n werklikheid is en 'n toevlug in die uur van nood. Die onoorwinlike krag van die opgewekte en lewende Jesus in ons lewe, moet as 'n onweerstaanbare getuienis uitgaan na 'n wêreld wat sonder God en sonder hoop is.

(word vervolg)

Dr E.P.J Kleynhans: Uit die Woord
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css