Die Weg

 

Die tyd van ons lewe is afgemeet in dae

Die dae van ons lewe – dit is maar sewentig jaar, en as die kragte daar is, tagtig jaar. En die beste daarvan is vol moeite en rampe; ja dit gaan gou verby, en ons fladder weg” - Psalm 90:10 (Direkte vertaling).

Die blote gedagte aan die kortstondigheid van ons lewens kan ons bedruk maak, en natuurlik sal ons probeer om nie daaraan te dink nie. Maar die einde kom ongemerk nader en een of ander dag moet ons die onvermydelike in die oë kyk. En dan is dit dalk te laat om die foute van jou lewe ongedaan te probeer maak.

In die 1953-vertaling van die Ou Testament word dikwels gepraat van “dae” as daar na die leeftyd van 'n mens verwys word. “En dit is die dae van die lewensjare van Abraham wat hy geleef het: honderd vyf en sewentig jaar.” (Gen 25:7). En dit is ook reg so, want ons leef ons lewe een dag op 'n slag, en daarom leer Jesus ons ook bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood” (Matt 6:11), en Moses sê: “Leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom!” (Ps 90:12). God het dit so gewil dat ons dag vir dag uit sy hand sal lewe.

Joel Osteen het gesê: “Elke dag is 'n unieke en onvervangbare geskenk van God. Die ure daarin kan gebruik of misbruik word, goed belê of vermors word. Ek bid dat jy die regte perspektief sal behou, dat jy op die goeie sal fokus, niks as vanselfsprekend sal aanvaar nie en sal besef dat elke dag uniek en onvervangbaar is. Leef rustiger en waardeer wat God jou geskenk het. Wees dankbaar oor die eenvoudige dinge, selfs die feit dat jy jou kan krap waar jy jeuk. Omhels jou kinders. Ruim tyd in vir geliefdes. Vind rede om dankbaar te wees. Kyk na wat reg is en nie na wat verkeerd is nie. Onthou dat die saad van mismoedigheid nie in 'n dankbare hart kan ontkiem nie.” (Joel Osteen: Elke dag 'n Vrydag)

Dus, wanneer ons terugkyk en sien hoe vinnig die dae van ons jare verbygegaan het, kan ons vra: hoe en waarmee het ons hierdie dae gevul? Het ons hierdie dae na waarde geskat en dit reg gebruik? Het ons lewenswandel daarvan getuig dat ons kinders van God is?

Gebed: Here, leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom!

-dw-

(Lees ook die vorige boodskap)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css