Die Weg

 

God se liefde vir jou

“Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” - Romeine 5:8.

Ons aanbid 'n regverdige God wat weet dat ons skuldig is aan die oortreding van elke wet. Nogtans het Hy ons lief. Só lief dat Hy sy Seun stuur om ons met Hom te versoen en sy Gees in ons te laat woon. Sy oë vol mededoë het gesien hoedat die mens deur die geskiedenis voortstrompel onder die las van sy eie ellendigheid.

Golgota moet selfs vir die mees skeptiese persoon bewys dat God nie blind is vir die mens se benarde toestand nie, maar dat Hy gewillig is om saam met ons te ly. God se allesverterende liefde vir die mensdom is die beste gedemonstreer aan die kruis waar sy medelye beliggaam is in Jesus Christus. “Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het ...” (2 Kor 5:19).

Moet nooit God se groot liefde bevraagteken nie. Jeremia het geskryf: “Van ver af het die Here Hom aan Israel bekend gemaak: Ek het jou nog altyd liefgehad, daarom het Ek jou met geduld verdra (Jer 31 :3). Paulus sê: “Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief” (Ef 2:4). Dit was God se liefde wat Jesus na die kruis gestuur het.

Jongmense praat graag van liefde en die meeste van hulle liedjies handel daaroor. "Die hoogste geluk in die lewe" het Victor Hugo gesê, "is die oortuiging dat iemand ons liefhet." En Sigmund Freud het gesê: "Liefde is die eerste vereiste vir geestesgesondheid." Die Bybel leer dat God liefde is en dat Hy jou liefhet. Dis uiters belangrik om dit te besef. Niks anders is belangriker nie. En omdat Hy jou liefhet, het God groot planne vir jou lewe. Wie anders as Hy kan jou lewe so goed beplan en bestuur?

Gebed: Ons Vader en ons God, U het waarlik saam met my gely deur Jesus aan die kruis. U het my nog altyd liefgehad, en dit maak my nederig voor U. Leer my asseblief om medelye te hê met ander mense, in liefde saam met hulle te ly en die liefde van die kruis met hulle te deel. In Jesus se Naam. Amen.

Uit: “Na hoër hoogtes” deur Billy Graham.  Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css