Die Weg

 

Vertroue op God alleen bring lewensvreugde

Daar is baie wat sê: “Wie sal dit weer met ons goed laat gaan?” Wees ons tog weer goedgesind, Here, help ons! - Psalm 4:7.

Alhoewel ons die onrustigheid in Dawid se gemoed kan bespeur, vind ons in Psalm 4 ook sy belydenis dat daar rus by God te vinde is. Hierdie lied leer ons dat God al ons lewensraaisels oplos wanneer Hy die lig van die ewigheid daarop laat skyn.

Nadat Dawid owerspel met Batseba gepleeg het, was daar nie meer vrede in sy huis nie. En ook nie in sy land nie. Oorlog en rebellie het uitgebreek. Sy vyande het baie geword. En wat sy beker nog bitterder gemaak het en sy stryd nog swaarder, was dat daar mense was wat valsheid liefgehad en die leuen bo die waarheid verkies het. Mense op wie hy vertrou het, was besig om hom in die rug te steek. Omdat dié mense nie op God vertrou het nie, saai hulle twyfel en onsekerheid met hulle vrae.

Teenoor die twyfel en onsekerheid van die wanhopiges, bid Dawid tot die HERE: “Wees ons tog weer goedgesind”. In die nag van verwarring en vertwyfeling bid hy om die lig wat van God af kom. Hy pleit by God om genade en vrede. Dan, wanneer God se lig van bo af oor hom skyn, word sy pad vorentoe verlig. Die vyande is nog daar, maar hy is nie meer bang nie. Sy toekoms is nie meer donker nie. Daar is vreugde en vrede in sy hart te midde van die stryd wat hy moet stry. Daarom kan hy rustig gaan lê en slaap, want hy weet God hou oor hom die wag.

In die tyd waarin ons leef hoor ons baie wanhoopskrete, vrae wat twyfel en onsekerheid saai en wat dreig om die geloof te laat wankel: “Wie sal dit weer met ons goed laat gaan?”. Vertroue op mense bring onsekerheid. In Jesus Christus laat God sy lig tot in ewigheid oor sy kinders skyn. Om Christus wil het ons deel aan God se genade, sy guns en sy goedgesindheid.

Ds. T.C. de Klerk
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css