Die Weg

 

Op die regte fondament

“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.” - Matteus 7:24.

Dit is die laaste stukkie van Jesus se groot preek daar bo-op die berg. Jesus bêre 'n baie belangrike vraag vir heel laaste: "Hoe weet ek ek is 'n Christen?"

Sommige mense dink as hulle maar net sê dat hulle 'n Christen is, of aan 'n kerk behoort, dan is hulle sommer vanself 'n Christen. Ander mense sê weer: Nee, jy moet aan mense die Woord verkondig, of ... jy moet wonderwerke doen, of ... jy moet duiwels uitdryf.

Maar wat sê Jesus? Hy sê dat daar baie mense is wat so praat wat nie in die koninkryk van die hemel sal inkom nie. Daar sal mense wees wat dink hulle is Christene, maar dit nie is nie.

Hoe kan mens dan weet of jy werklik aan Jesus behoort? Hier gee Hy die antwoord: jou fondament moet reg wees.

'n Mens is soos 'n huis. Daar is huise met slegte fondamente. Hierdie huise waai sommer met die eerste stormwind om. Daar is ook huise met goeie fondamente. Hierdie huise staan, al waai die stormwind hoe erg. Bokant die grond lyk hierdie huise dieselfde, maar die fondamente maak die verskil.

Wanneer is jy soos 'n stewige huis? Wanneer jy Jesus regtig ken. As jy met Hom lewe, verander jou lewe. Jy luister na sy woorde: dit is jou fondament.

Vir die Christen is Jesus se woorde belangrik. Jy wil luister en doen. As jy maar net altyd luister en nooit dit begin doen wat die Here aan jou sê nie ... wat bewys jy dan? Jy bewys dat jy nie 'n Christen is nie.

Die mens wat na Jesus luister en doen wat Hy sê, daardie mens sal alle storms oorleef. Hy sal ook die grootste storm met die oordeelsdag, wanneer Jesus weer kom, oorleef - want hy ken vir Jesus en Jesus ken hom.

Ds D van't Zand
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css