Die Weg

 

Tyd en ewigheid


God het elke ding gemaak dat dit pas in 'n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens 'n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.” - Prediker 3:11 (83-vertaling).

“Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind” - Prediker 3:11 (53-vertaling).

Alles pas inmekaar soos 'n legkaart in die volmaakte rooster van God. Daar is inderdaad 'n tyd vir alles. God se kind kan op sy lewe terugkyk en weet: "Alles het tog op die regte oomblik gebeur." In God se bestuur van die tyd is daar niks wat ontydig is nie. Hy is nooit te vroeg of te laat nie.

So het elke ding sy bepaalde tyd, maar daar is ook die onbepaalde tyd, die ewigheid. Jy en ek is tog nie soos 'n dier nie. God het ons met iets in ons geskep wat geen dier het nie: die eeu (ewigheid) lê in ons hart. Diep in ons binnenste weet ons dat ons vir die ewigheid gemaak is.

Daar is dus twee dinge: tyd en ewigheid. Die Heilige Gees waarsku ons deur die boek Prediker om met altwee - die tyd, maar ook die ewigheid - besig te wees. Hoe maklik val ons in die slaggat om net met die dinge van vandag besig te wees. Die werk, die gesin, sosiale verpligtinge en sportgebeure maak ons dagboeke in 'n japtrap tot oorlopens toe vol! Dit is 'n gejaag na wind.

Natuurlik is alledaagse dinge nie onbelangrik nie. Jesus was so besig met die alledaagse: Hy maak siekes gesond, Hy vermeerder die brood en Hy maak 'n plan sodat die tempelbelasting betaal kan word. Maar Hy beveel ons om nie net op aarde skatte bymekaar te maak nie. Ons moet ook die ewige skat, die lewe in Christus, soek terwyl ons nog tyd het.

Daar is inderdaad 'n tyd vir alles. Maar tyd gaan verby! Baie mense leef asof daar altyd nog tyd oor sal wees. Jesus waarsku ons egter: Hy kom onverwags! Dan is ons binne die ewigheid in. En dit gaan nooit verby nie. Is jy gereed daarvoor?

Ds D van't Zand
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css