Die Weg

 

Liefde, die dryfveer vir diens aan die Here

Simon, seun van Johannes, het jy my baie lief, meer as hulle hier?” - Johannes 21:15.

Drie maal het Simon Petrus vir Jesus verloën.
Drie maal vra Jesus of Simon, seun van Johannes, Hom liefhet.
Drie maal bevestig Petrus sy liefde vir Jesus.
Drie maal kry hy die opdrag om die kudde van die Here te versorg.

Wat lê agter die drie liefdesvrae aan Petrus? Hoe raak die vrae my verhouding met die Here Jesus?

PETRUS HET JESUS LIEFGEHAD, MAAR TOG VERLOËN.
Petrus het ‘n innige pad met die Here Jesus geloop. Hy het sy vissermanslewe verruil om ’n visser van mense te word. Hy was bereid om Jesus tot die dood toe by te staan. Hy kap Malgus se oor af toe Jesus gevange geneem word. Hy was angstig om sy Here te dien!

Ja, Petrus het Jesus liefgehad!

En toe verloën Hy Jesus, asof hy hom nie liefhet nie!

PETRUS HET DIE GEKRUISIGDE JESUS OOK LIEFGEHAD.
Petrus het self die Sondagoggend graf toe gehardloop om seker te maak dat Jesus se liggaam nie meer daar was nie. Hy het later besef dat Jesus opgewek is, want hy was in die bokamer saam met die ander dissipels toe Jesus daar aan hulle verskyn het.

Maar Jesus het toe nog nie persoonlik met Petrus gepraat nie. Sy besluit om weer te gaan visvang, word onderbreek deur Jesus se verskyning. Daar langs die viswaters konfronteer Jesus hom: “Het jy My baie lief?” (2x) “Het jy my lief?” (1x)

“Ja, Here, ek het U lief!” Let op – nie BAIE lief nie! Drie maal bevestig hy sy liefde vir Jesus, maar is nederig oor hoeveel hy liefhet.

Drie opdragte volg: Laat wei my lammers – kyk na die kleintjies in jare of in geloofskennis. Pas my skape op – jy weet hoe listig is die Satan. Laat wei my skape – gee vir die grootmense kos, ook vir die volwasse gelowiges.

Wonderlik! Jesus vertrou Petrus om herder te wees – want hy het Jesus steeds lief.

JOU LIEFDE VIR JESUS?
Hoe lief het jy Jesus Christus? Baie, of net gewoonweg? Hoeveel vrymoedigheid het jy om Hom te dien, ten spyte van jou gebreke?

Jesus se pad met Petrus gee moed en vrymoedigheid! Jesus het hom geroep, gelei, beloof om vir hom te bid, verskyn aan hom en praat persoonlik met hom – ten spyte van sy misstappe en sonde!

ONTHOU! Jy kan die Here dien, al is jy nie volmaak nie! Hy vergewe ons sondes en herstel sy volgelinge. Jou liefde, wat gevoed word deur sy liefde vir jou, al is dit nie BAIE nie, is die belangrikste dryfveer.

Dr. Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css