Die Weg

 

Die bereidheid om te volg waar God ons lei

“So het hulle dan op die tweede dag die stad een keer omgetrek; daarna het hulle in die laer teruggekom. So het hulle ses dae lank gedoen.”  - Josua 6:14 (53 -vertaling).

Die verhaal van die inname van Jerigo is een van die merkwaardigste in die Bybel. Nie alleen vanweë die wonderwerk wat daar gebeur het nie (’n wonderwerk wat bo enige twyfel deur opgrawings bewys is) maar vanweë die les in selfdissipline wat die volk van Israel hier moes leer.

Jerigo moes ingeneem word, maar van al die moontlike maniere waarop dit gedoen kon word, was die wyse waarop dit wél geskied het seker die laaste waaraan enige mens ooit sou gedink het. Ons moet onthou dat Josua nie vir die volk gesê het wat die Here aan hom geopenbaar het nie. Hy het net die sonderlinge bevel gegee dat die hele volk in prosessie om die stad moes trek sonder om ’n geluid te maak! (vers 10).

Israel moes hier onvoorwaardelike gehoorsaamheid en selfdissipline betoon. Hoe dikwels in die lewe kom ons nie ook voor probleme te staan waar ons maar net moet volg sonder om te verstaan nie! Waar ons moet glo al sê ons verstand ook vir ons dat daar skynbaar nie sin is in wat ons moet doen nie. Maar as ons soos Israel volhard, sal ons op die regte tyd sien waarheen God ons wil lei.

Gebed: O, Here, soms verwag U van ons dat ons sal volg sonder om te sien en sonder om te verstaan. Help ons om in sulke oomblikke te glo dat U weet waarheen U gaan, al weet ons nie. Help ons om te vertrou en te volg waar U lei. Amen.

Uit: Lig en lewe, onder redaksie van ds Norval Geldenhuys
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css