Die Weg

 

Op weg met Christus (3)

(vervolg van vorige boodskap)

'Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan. Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar, en dié sê: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!” Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het, en hoe Hy aan hulle bekend geword het toe Hy die brood gebreek het.' - Lukas 24:32-35.

Hierdie verhaal eindig met groot vreugde. Die son was reeds onder toe hulle besef het dat die “vreemdeling” wat saam met hulle gestap het, Jesus was. En terwyl dit in hulle harte gebrand het, was hulle eensgesind oor één saak: al was dit reeds donker, moes hulle dadelik die 11 km pad terug loop Jerusalem toe, na die apostels en hulle vriende toe. Hulle moes net eenvoudig hierdie goeie boodskap van Jesus se verskyning aan die ander gaan oordra.

Maar die ander het reeds van Jesus se opstanding en verskyning gehoor. Wat egter vir hierdie twee dissipels van Emmaus gewis en seker was, het die ander nog oor getwyfel, nieteenstaande dat Simon ook al die ervaring beleef het. Kon dit waar wees? Hoeveel het gesê: “Ja ..... miskien, sal dit eers self moet sien!”

Ons lees van hierdie twyfel in die volgende verse: “Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!” Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien 'n gees. Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte?” ( v36-38).

Dán eers gaan die lig vir die ander ook op. Daar is letterlik ongelooflike blydskap en verwondering. “Toe hulle van blydskap en verwondering nog nie kon glo nie”. En soos ons voorheen gesien het met die ander twee dissipels, “open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan”. Watter groot vreugde?

Ook ons ken die Heilige Skrif. Laat ons dan ook met brandende harte feesvier in die opstanding van Christus. 'n Fees wat duur tot in die ewigheid. Jesus leef en ons met Hom!

dw
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css