Die Weg

 

Geloofsekerheid

Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom ... laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid.” - Hebreërs 10:19-22.

Natuurlik moet ons geloof hê. Maar ons het nie net geloof nie, ook geloofsekerheid. Meer nog: volle geloofsekerheid. Hoe wonderlik! Daar is geen ruimte of plek vir enige twyfel nie. Dit is die volle versekering wat ons geloof ons bied. Het jy dit?

Jy sal nooit lekker sit as jy nie seker is dat jou stoel jou gewig kan dra nie. Jy sal nie kan ontspan en tot ruste kom nie. Maar by die Here Jesus kan ons rus vind, want deur die Heilige Gees gee Hy vir ons die volle sekerheid van ons geloof in Hom. Daar is baie Christene wat nie deel in die volle sekerheid van hul geloof nie. In hul hart glo hulle in die Here Jesus Christus, maar hulle gedagtes word steeds gepla en geteister oor hul sekerheid met betrekking tot die ewigheid; oor hul status as kinders van God. Daarom kan hulle nie hul vryheid as Christene geniet nie, en dra hulle 'n las van onsekerheid en vrees met hulle saam. Iets wat die Here Jesus nooit van hulle verwag het om te dra nie.

Hy gee ons die rus wat uit geestelike sekerheid volg. En dit is die Heilige Gees wat hierdie sekerheid in ons harte skep. Self kan jy nie hierdie geloofsekerheid skep nie; jy kan nie uit jouself glo in die dinge van God nie. Dit is die werk van die Heilige Gees. Hy is deur Christus vir ons gestuur: “Ek [sal] Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel..” (Joh 16:7-8). En dit is die belofte van die Here Jesus dat elke belaste sondaar wat na Hom kom en Sy juk opneem, deel sal hê aan hierdie geloofsvrede. Hierdie rus van innerlike oortuiging en versekerde sekerheid verkry deur die Heilige Gees.

John A Caiger, “Come .... take my Yoke”, 1961.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css