Die Weg

 

Die waansinnige omkering van waardes

(vervolg van vorige boodskap)

Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.” - Jesaja 5:20 (53-vertaling).

Ons het in die vorige boodskap gesien dat ware revolusie sin het omdat dit die goeie na bo bring. En dit gebeur alleen wanneer 'n mens wedergebore word, sodat nie jyself nie, maar God die hoogste gesag voer. 'n Heilsame revolusie waarby die mens tot sy volle reg kom in gemeenskap met God en sy naaste.

Maar helaas sien ons ook telkens 'n waansinnige omkering van waardes, sodat die slegte die botoon voer terwyl die goeie die onderspit moet delf. Dit gebeur wanneer ons die goeie gebod van God inruil vir die slegte gebod van die mens, wat homself bo alles stel.

Die profeet Jesaja sien tot sy skrik die onheilspellende en waansinnige omkering van waardes: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.” Dit beteken nie alleen dat die leuen die mens oorheers nie, maar ook dat die kultuur van regverdigheid tot niet gaan. Daar is nie meer berou oor sonde wat begaan is nie. Inteendeel, die mens stel die sonde voor as die normale en die goeie as die abnormale. Die filosoof Friedrich Nietzsche (1844-1900) het eerste hierdie waansinnige omkering van waardes gepredik, waarin barmhartigheid as onsin beskou en die mag van die sterkste as deug geroem is. Dan sien ons hoe dit in die praktyk 'n mees onmenslike gestalte gekry het in die nasionaal-sosialisme van Nazi-Duitsland.

Ons Christelike kultuur gaan tot niet omdat ons huwelikstrou slawerny noem en egbreuk vryheid, deur selfbeheersing en selfverloëning bitter te noem en die uitlewing van 'n mens se egoïsme soet te noem, deur godsdiens duisternis en godslastering lig te noem, deur geen verantwoordelikheidsbesef teenoor ander mense in die gemeenskap te koester nie en elkeen-vir-homself die spel van die lewe te noem. Wee hulle wat meewerk aan die waansinnige omkering van waardes.

Ds J Overduin in Bevrijding:Bijbels dagboek (vry vertaal)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css