Die Weg

 

Dink aan die goeie eerder as aan die ontstellende

Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.” -  Filippense 4:8.

Daar is baie dinge wat ons vandag ontstel. Die spanninge in die wêreldpolitiek, godsdienstige stryd, wrede moorde, misdaad, geldnood en werkloosheid, gesinne wat uitmekaarval ...... As ons met vriende bymekaarkom oorheers slegte nuus gewoonlik ons gesprekke, en dit steek vas in ons gedagtes.

Dis egter nie nodig nie! Ons hoef nie slawe te wees van ons gedagtes nie want ons kan beheer hê daaroor. Hoe doen ons dit?

Ons verhouding met God bepaal ons gedagtes en ons gesindheid teenoor die daaglikse gebeure. Kom ons neem Filippense 4 as riglyn: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” (Filip 4:6-7). In ander woorde gestel: “Julle moet julle nie oor enigiets bekommer nie. Bid daaroor en sê vir God duidelik wat julle wil hê. Vra Hom om dit vir julle te doen en sê vir Hom dankie! Dan sal God julle sy wonderlike vrede gee wat ’n mens nooit met jou verstand kan verklaar nie. Sy vrede sal wag hou oor julle hart en julle gedagtes omdat julle aan Christus Jesus behoort.”

Bid, sê dankie, verwag die vrede wat nie met die verstand verklaar kan word nie. Om Christen te wees is dus nie om met ‘n paar feite wat in die Bybel staan, saam te stem nie. Dit is ‘n leefstyl, waarin ek met die lewende Here Jesus in gesprek is, my bekommernis met Hom deel en my oopstel vir sy vrede. Daardie vrede wat deur God in my hart en verstand kom woon.

Maar dan vra dit vir my, as biddende volgeling van Jesus, om my gedagtes weg te vat van die dinge wat my ontstel. Nie deur oogklappe op te sit en te maak of die slegte dinge nie gebeur nie. Maar om te voorkom dat die slegte dinge my gedagtes en my lewe oorheers. Die Here lei ons in Filippense 4:8 op so ‘n pad vir ons gedagtes: “Julle moet konsentreer op die dinge wat waar en ordentlik, reg en skoon, en mooi en eerbaar is. Julle moet die goeie dinge raaksien wat daar in ander mense is en oplet waarvoor julle God alles kan prys.”

Konsentreer op wat waar is – dat God regeer, dat Jesus my lewende leidsman is, dat die Bose nie regeer nie, dat ons op pad na ‘n heerlike bestemming is.

Konsentreer op wat ordentlik is – God is ordentlik, nie boos nie, nie vals nie, nie wreed nie. Daar is mense, gemeenskappe, waarin die liefde van God heers, waar omgegee word, waar mense onselfsugtig mekaar se belange op die hart dra, waar uitgereik word na stukkende mense. Konsentreer in jou gedagtes daarop. Lees daaroor, praat daaroor, raak daarby betrokke.

Konsentreer op dit wat mooi en eerbaar is nadat jy biddend jou kommer met God gedeel en sy vrede in jou lewe gekry het. Dit is hoe en wie God is, hoe sy koninkryk funksioneer. As ons altyd bly dink aan wat lelik en boos is, sal ons in die donker gat van hooploosheid verval.

Bid volhardend tot die lewende Here.
Fokus jou gedagtes op Hom en die goeie wat ons as sy volgelinge met Hom deel.

Dr. Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css