Die Weg

 

Gaan! Doen! Ek is met jou, My woorde sal jou lei

"Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees. "- Josua 1:8.

Daar is min dinge wat so senutergend is as ONSEKERHEID. Watter koers moet ek inslaan? Wie gaan vir my raad gee? Sal iemand my ondersteun? ... Dit is die tipiese vrae uit onsekerheid.

Soms kry jy ‘n opdrag om iets te doen, terwyl jou pligte duidelik uitgespel is, maar jy voel nie opgewasse daarvoor nie. Jy volg dalk iemand op wat ‘n baie sterk leier was, ‘n goeie bestuurder, ‘n ervare en erkende persoon in die gemeenskap. Tong in die kies gesê: Die oom by wie ek altyd raad gevra het, is dood. Nou is ek die oom by wie die mense raad vra. Wat ‘n groot verantwoordelikheid!

In die boek JOSUA word die geskiedenis van Israel se intog in die beloofde land Kanaän beskryf. Na 40 jaar se omswerwinge in die woestyn, sterf Moses, en Josua word die nuwe leier. Hoe lyk sy werksomgewing? Om die minste te sê, baie onseker. Die volk was nie ‘n maklike groep om die nuwe woonplek in te lei nie. Daar sou weerstand wees van die Kanaäniete. Die Israeliete was huisgesinne, vir jare in die woestyn, met geen weermag of aanvalswapens nie. Moses was weg, Josua moes vertroue verdien.

Is jy dalk in soortgelyke omstandighede? By jou werk, in jou gesin, in die nuwe gemeente, te midde van benarde staatkundige omstandighede? Jy weet jy moet, maar jy voel nie toegerus nie.

Daar is niks wat meer krag en vertroue kan gee as jou verhouding met die Here, die God van die verbond nie. Ons sekerheid lê nie in onsself nie, maar in die getrouheid en hulp van God. Die sleutelwoorde in sy gesprek met Josua is: GAAN na die land toe (Josua 1:2); EK GEE aan julle elke plek waar julle kom (1:3); Ek sal BY JOU wees (1:5); OORDINK my wetboek dag en nag en sorg dat jy alles UITVOER wat daarin geskryf staan (1:8).

Om met meer sekerheid jou roeping uit te leef, is die volgende belangrik:

=> Maak seker dat jy God dien in jou werk of pligte.
=> Wees oortuig van sy vaste beloftes.
=> Vertrou Hom, dat Hy met jou sal wees.
=> Luister na sy woorde, soos in die Bybel opgeteken, oordink dit voortdurend.
=> Doen wat Hy jou in sy Woord leer.

Vir elkeen van sy kinders sê die Here: GAAN! DOEN! EK IS MET JOU, MY WOORDE SAL JOU LEI.

Dr. Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css