Die Weg

 

Deur wanhoop na die lig

“Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien.” - Job 42:5 (53 vertaling).

In hoe baie mense se lewens het dit al gebeur dat vreugde en sonskyn onverwags plek moes maak vir verbysterende smart? Dit is asof 'n bliksem ineens die geestelike kragsentrale getref het, en daar sit die beproefde nou sonder lig en hoop.

Só moet ons nou voor ons geestesoog die man uit die land Us sien. Wat kon 'n mens meer begeer as Job: besonder welgesteld, in 'n gelukkige huisgesin, 'n eerbare, hooggeagte mens en godsdienstig ook nie onverskillig nie. Dit is of hy omring word deur stralende geluk dag na dag. Sy beker loop waarlik oor! En dan opeens is dit asof al die verderwende magte denkbaar op hom losgelaat word om hom van alles kaal te stroop. Hulle nader soos grypende, bose demone: die wilde Sabeërs roof sy vee, die dood neem sy kinders weg en Job bly gebroke agter. Melaatsheid tas sy liggaam aan, en bring hom gevaarlik naby die rand van algehele ineenstorting. By dit alles tree sy huweliksmaat soos 'n kwaaie duiwel teenoor hom op. Om dinge nog te vererger daag vriende op wat met hartelose teorieë twyfel in sy hart saai sodat hy alle selfvertroue, alle houvas kwyt raak en teenoor die morrende, klaende vriendekoor moet kerm: “Ontferm julle oor my, o my vriende!"

Wat 'n skrikwekkende toneel daar op die ashoop waar hy sit met 'n sak beklee, as op sy hoof, potskerwe om die etterige swere te krap en honde wat sy stinkende wonde lek! Hy het dag en nag geen rus nie. Weggeworpe, vereensaamd kla en kerm hy uit die helledieptes waarin hy weggesmyt lê.

Hy kyk in donker afgronde wat hulle kake wyd oopgesper het. Hy is angstig, ver verwyder van die blye dae van weleer, in 'n wêreld van doodskaduwees, soos hyself sê, in 'n gebied van donkerheid soos middernag. ....  Van God sien hy nou niks meer nie. Die Here is weg agter die vreeslike wolke van leed en smart. Dit word vir hom ondraaglik. Net soos Petrus op die stormsee sien hy alleen die golwe, die kokende dieptes. Soos Jesus uit die gesig van Petrus verdwyn het in die uur van benoudheid, so is God se ligtende aanskyn bedek met wolke vir Job. Hy kan nie meer nie.

Wat Job nou gaan sê is tog al te verskriklik, ongelooflik. Hoor net: “Mag die dag vergaan waarop ek gebore is, die nag wat gesê het: 'n seun is ontvang." En die vreeslike dood - dit lyk die enigste uitweg. Die dood, sê hy, “sal rus bring!" Vreeslik! Donker selfmoordgedagtes het soos grypende monsters ontwaak op die bodem van sy hart. O God; verhoed dit tog! Moet Job die donker pad bewandel wat so baie lyers en lyeresse gegaan het - die pad van selfvernietiging? Hierdie mens het nou die laagste dieptepunt bereik. Verder kan dit nie!

Maar die huiweringwekkende dieptes waarin Job geslinger is deur die geweld van die lydingstorms, sal hom van God nie skei nie. Uit Sy verborgenheid van agter die sluiers van tyd en ruimte tree God nou na vore. Hy kom in Sy genade na Job, aan wie Hy Sy onbeskryflike mag en wysheid toon.... Job het die lyding as 'n alleenstaande verskynsel gesien en hy, Job, prooi van wilde, grillige en demoniese geweld. Nou sien hy agter hierdie lyding die oorweldigende gestalte van God wat Sy kind met die smart wil seën.

Die silwer kom mos nie van die erts vry nie, tensy daar met vuur onder die smeltkroes gestook word. So ook by God se kinders. Daar sit baie onedels, sleg en boos diep vas by ons. Die vuur van lyding bevry ons van die onsuiwer bymengsels, totdat ons die beeltenis van die hemelse Smelter, God, weerkaats.

Eers deur die diepte. Daar het God Job gevind en Job God. Aan die oppervlakte, toe dit nog met Job goed gegaan het, was dit anders. “Volgens hoorsê het ek van U gehoor, maar nou - nou het my oog U gesien!”, bely Job juigend aan die einde van sy lydingsdrama. Waar het Job God gesien? In die diepte.

“Gods vriend'like aangesig
straal vrolikheid en lig
deur duisternis en smarte
vir alle opregte harte.”

Uittreksel uit 'n radiopraatjie van Dr J.A. Schutte, uit die bundel “...en Ek sal julle rus gee” (1957).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css