Die Weg

 

Stomgeslaan

“Kyk, jy sal stom wees en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde, wat op die bestemde tyd vervul sal word, nie geglo het nie.” - Lukas 1:20.

Hier in die verhaal van die stomme Sagaria sien ons God aan die werk. Hier leer ons ons God beter ken en met groter toewyding dien.

Sagaria is as kerklike ampsdraer in die spervuur. As priester in die tempel is dit sy beurt vir die wierookoffer. Dit is die hoogtepunt van 'n priester se lewe! Maar vir hom is hierdie dag 'n laagtepunt, want Hy kom soos 'n stomme na buite. In plaas daarvan dat hy as die priester die tempelgangers toespreek en die wonderlike evangelie van die wierook preek, kan hy nie 'n woord uitkry nie. Stomgeslaan! En dis nie maar net omdat hy hom gedaan geskrik het toe die engel Gabriel so onverwags aan hom verskyn het nie. Dis die werk van die Here (Ps 51 :17). God maak monde oop en toe. En jou tong en mond is daar om die lof van die Here te verkondig!

Die probleem was dat die priesteramp so verval het dat dit eintlik net sleurwerk geword het. Waar die priesterdiens en die wierook en die hele tempeldiens profeties van die komende Messias moes getuig, het dit alles net oppervlakkige en tradisionele godsdiens geword. En as Sagaria daar binne in die heiligdom die wonderlike nuus van die geboorte van sy seun kry, dan betwis en betwyfel hy die woord van God: Hoe kan dit moontlik wees? Hy het ander ervarings. Vir hom raak geloof nie die realiteite van die lewe nie. Nou in sy ouderdom kom sy teleurgestelde geloof openlik na vore. Hy en Elisabeth is kinderloos - 'n pyn wat net dié wat dit ken, verstaan. Al hulle gebede en geloof het nie gehelp nie. So dink hulle.

Sy amp en die betekenis daarvan het dus min met sy persoonlike geloof te doen gehad. En deur sy stomheid lei die Here sy priester-kind tot geloof en bekering. Vir meer as nege maande is hy stom. En as hulle by die besnydenis vra wat die kind se naam moet wees, dan kom daar 'n geloofsbelydenis. Op die tablet skryf die griffel: Jo-annes - Jahwe is genadig! (Luk 1:63). Dit waarvoor die priesteramp staan, en vir jare en jare moes profeteer: 'n Genadige God. Nie net maar in die gawe van 'n kind nie, maar juis hierdie kind: Johannes. Hy is die wegbereider, die een wat voor die Messias uitgaan (Luk 1:16,17) - Johannes die Doper. Hy getuig van die Messias. Van genade. Van Christus Jesus, ons ewige Hoëpriester!

Ons leef in 'n wêreld van teleurstellings en verdriet. En dit is juis in hierdie donker, selfgerigte lewe waar ons in absolute verwondering ons stem kan laat hoor oor God se genade in Christus Jesus. Laat ons ons nie skaam vir die evangelie van Christus nie, want dis 'n krag van God vir elkeen wat glo (Rom 1 :16).

Sagaria praat weer. Dan is dit een en al geloof en lof: Die lofsang van Sagaria getuig van God se genade. Genade, nie maar net in die voorspoed van ons !ewe nie, maar juis daarin dat God na sy kerk/volk omsien in die teenspoed van 'n gebroke lewe.

Sagaria se stem is nooit meer stil nie - dit staan opgeteken in die onwankelbare Woord van God (Bybel). Lees gerus nou sy loflied en getuienis in Lukas 1:67-80.

Gebed: Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig (Ps 51:17).

Ds Maarten van Helden (verkort).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css