Die Weg

 

Rus na arbeid

“Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die HERE het dit gespreek.” - Jesaja 25:8 (53 vertaling).

Volgens die Bybel is die dood vir 'n Christen die rus na arbeid. Ons lees: " ... Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe" ... (Open 14:13). Dis of die Here van die oes vir die vermoeide arbeider sê: "Jy was getrou in die uitvoering van jou taak, kom sit nou hier op die koel stoep van my paleis en rus van jou arbeid; kom in en deel in my vreugde."

Sommige van God se kinders bereik meer in 'n paar jaar as ander in 'n leeftyd. Die Bybel sê: “Daar wag dus nag steeds 'n sabbatsrus vir die volk van God ...” (Heb 4:9). Hierdie rus kan nie begin voordat die doodsengel hulle aan die hand neem en inlei in die heerlike teenwoordigheid van hulle Here nie.

En Paulus het gesê: “Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here gaan woon” (2 Kor 5:8).

Victor Hugo het van die dood gesê: "Wanneer ek sterf, kan ek soos so baie ander sê: 'Ek het my taak voltooi,' maar ek kan nie sê dat ek my lewe voltooi het nie. My dag se werk sal die volgende oggend begin. My graf is nie 'n doodloopstraat nie, dis net 'n deurgang. Dit sluit in die aandskemer en gaan weer oop as die dag breek."

In die vaste vertroue dat die dood nie 'n einde is nie, maar 'n begin, kan ons saam met die apostel Paulus se: "Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?" ( 1 Kor. 15:55).

Gebed: Ons Vader en ons God, ek vind rus in U wonderlike beloftes. Ek ontspan van my aardse frustrasies en spanning wanneer ek deur u Woord in U rustige teenwoordigheid kom. Wanneer my lewe hier verby is, Vader, weet ek dat dit net die begin is van die ewige lewe by U. Ek verbly my in die gedagte aan die rus by die rivier van die lewe in U heilige plek wat ek ontvang deur Jesus Christus, ons Verlosser. Amen.

Uit: Na hoër hoogtes, deur Billy Graham. Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) www.cum.co.za.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css