Die Weg

 

Die Here antwoord .... luister net fyn

“Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg.” - 2 Korintiërs 12:7-9.

Die Here antwoord altyd gebed. Die probleem is dat ons Hom nie altyd so duidelik hoor nie. Ons verwar dikwels ons eie wil met God se antwoord. As ons iets vra en dit gebeur nie net soos ons dit gevra het nie, dink ons God het nie ons gebed verhoor nie. God hoef egter nie altyd net te antwoord soos ons dit wil hê nie. Hy kan nee sê, of selfs op 'n manier antwoord wat anders is as wat ons gevra het. Paulus moes ook hierdie les leer.

Paulus het iets gehad wat hom vreeslik gehinder het in sy werk; dit was soos 'n doring wat hom gesteek het (v. 7). As hy net van die ding ontslae kon raak, sou hy soveel beter gepreek het. Dit was regtig 'n struikelblok in sy lewe. Daarom gaan vra hy die Here om hom te help: "Vat die ding weg sodat ek beter vir U kan werk." Dit is nou 'n billike gebed, maar nogtans kry hy geen antwoord nie. Die hemel bly doodstil. Toe bid hy weer, maar steeds lyk dit of die ink van die hemelse faksmasjiene klaar is, want weer hoor hy niks. Dit is egter toe hy die derde keer bid dat hy besef: die Here het hom eintlik al die eerste keer geantwoord (v. 8-9). Die Here se goedheid is vir hom genoeg. Juis wanneer hy swak is, skyn die Here se krag soveel helderder deur alles wat hy doen. Daar was dus 'n Goddelike rede vir die doring. Paulus moes nie te veel staatmaak op hoe goed en groot hy as apostel is nie, want netnou staan hy in die pad van God. Dit sou 'n fout wees, want mense moet hom nie raaksien nie, maar vir God. En die doring het daardie balans reg gehou.

God antwoord gebede, maar nie altyd soos ons wil hê Hy moet nie. Hy antwoord hulle soos Hy wil. Ons moet net geestelik sensitief genoeg wees om sy antwoorde duidelik te hoor en bereid wees om dit so te aanvaar.

Die Here antwoord jou gebede ... luister net fyn.

Uit: “Die Eenjaar-boodskap met oordenkings” deur Jan van der Watt - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) www.cum.co.za.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css