Die Weg

 

Slegs maar één Redder

"Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie." - Jesaja 43:11 (83 vertaling)

Daar is geen redder buiten die Here nie! Dit is 'n eenvoudige feit wat ons alryd moet onthou.

Ons soek mos altyd 'n redder in die wêreld, So kan jy jou vasmaak aan 'n invloedryke persoon in die werkplek en glo dat hy vir jou 'n stewige plek in die maatskappy sal verseker. Later word hy uitgeskuif en jy sit hoog en droog en sonder 'n plan vir die toekoms. Of jy ontdek later dat hy net nie sy woord gehou het nie, want hy is ook maar net 'n mens wat probeer om sy eie belange te beskerm.

Die waarheid is dat ons nie 'n ander redder moet soek as die Here nie. Daar is geen ander soos Hy nie.

Vertrou jou Maker met jou lewe. Hy wat jou gemaak het, weet waaróm Hy jou gemaak het en waarhéén Hy met jou op pad is. Jou lewe kan dalk draaie maak wat jy net nie verstaan nie. Die Here weet waarom jy om elke draai moet gaan.

Sit jou hand in sy hand en vertrou Hom om die toekoms tegemoet te loop. Hy alleen het die mag om jou te red. Net die Here het jou lief genoeg om jou te red. Dit is Hy wat nie wil hê dat jy verlore moet gaan nie. Hy wil ook nie hê dat jy deur jou eie frustrasies afgetakel moet word nie. Moenie soos 'n stout kind probeer om jouself uit sy hand te ruk nie. Bly in die veilige sone van sy liefde en weet dat Hy jou red met die oog op die ewigheid, maar ook op aarde van elke negatiewe situasie.

Gebed: Here, U is my Redder. U verlos my van elke ding wat my vasbind aan die negatiewe.

Uit: By die ruspunt van my hart, deur Eric Stander (Met die vriendelike toestemming van Aktuapers)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css