Die Weg

 

Moet nooit oorhaastig wees nie

“Wat hardwerkende mense beplan, is nuttig, maar elkeen wat oorhaastig is, stuur af op gebrek.” - Spreuke 21:5.

Elke dag is vol van sy eie dinge. Almal is so verskriklik besig. Daar is altyd soveel om te doen en so min tyd. Die gebrek aan tyd, waaroor almal kla, maak dat alles op 'n drafstap gedoen moet word. Ons wil so dikwels Rome in een dag bou, of ons verwag dat ander dit in een dag moet doen!

Salomo waarsku ons hier teen oorhaastigheid: "Wat hardwerkende mense beplan, is nuttig, maar elkeen wat oorhaastig is, stuur af op gebrek". Die spreekwoord is inderdaad waar: Hoe meer haas, hoe minder spoed. Baie sogenaamde kortpaadjies is tydmors en geldverkwistend. Wie oorhaastig is, ly dikwels skade in plaas daarvan om voordeel daaruit te trek. Hy wil tyd wen, maar kom op die ou end tyd kort; hy wil vinnig geld maak, maar hy verloor. Iemand wat oorhaastig is, doen dikwels onverstandige dinge.

Daarteenoor, sê Salomo, is die planne van die hardwerkende mens baie nuttig en tot voordeel vir almal. 'n Mens moet jouself die nodige tyd gun om te beplan. Hoe kan ek dit die beste doen? Want dit is nie net die vinnige wegspring wat tel nie, maar ook die deursettingsvermoë om vol te hou tot die suksesvolle einde! As jy dus baie moet doen en baie wil doen, gaan sit eers. Beplan die dag en begin dan ywerig, maar teen 'n pas wat jy kan volhou.

Dit alles geld ook van ons lewe saam met die Here. Oorhaastigheid in ons godsdiens lei tot oppervlakkigheid en gebrek.

Dit is tog opmerklik hoe dikwels die Bybel praat van "wandel''. In die koninkryk van God word daar nie gehardloop nie. Ons moet as't ware hand aan hand met die Here lewe en 'n mens kan dit nie doen as jy altyd aan die hardloop is nie. Jesaja het ook gesê: “Hy wat glo, sal nie haastig wees nie.” (Jes 28:16 – 53 vertaling)  'n Mens moet op die Here kan wag, ook al is jy hoe haastig om 'n oplossing vir jou lewensprobleme te kry.

Ons moet vandag baie doen, maar dink eers goed na: Hoe kan ek die Here in alles die beste dien?

Ds A.H. Mulder
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css