Die Weg

 

Dit waarvoor ek bang was

“Laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” - Hebreërs 12:1-2.

Een van God se heerlike gawes aan die mens is dat Hy aan ons die geleentheid skenk om telkens weer nuut te kan begin. Elke nuwe jaar bring nuwe geleenthede en nuwe uitdagings. Ook 'n kans om weer te probeer, om 'n nuwe poging aan te wend om al die drome van gister tot uitvoering te bring. 

Terwyl jy na die gesigseinders daar vér staar en wonder wat die komende jaar sal oplewer, staan net 'n bietjie stil en dink na oor die pad wat jy tot hier gevolg het. Dit het heel waarskynlik 'n paar letsels op jou nagelaat. Sekere van die letsels sal gou verdwyn, op sommige plekke was die eina's te diep en sal jy die littekens vir ewig met jou saam moet dra. Maar tog moes jy iets daaruit geleer het.

Baie keer is ons fisiese en geestelik littekens die gevolg van ons eie vrese. Só het ek op my eie probeer fietsry toe ek 6 jaar oud was. Die pad het afdraand geloop vanaf my oupa se huis na die plaashek. As ek dus net my balans kon hou sou ek sonder dat dit nodig was om te trap, met die pad af en deur die oopstaande hek kon ry. Maar die doringdraadheining wat direk langs die pad geloop het, het al meer op my senuwees begin werk. Sê nou maar net ek beland in daardie doringdraad! Die litteken van my vrees is nou nog sigbaar. Watter goeie leerskool in lewensoriëntering was dit nie! Ek het veel later eers besef dat die oorsaak van my ontmoeting met die aaklige stekelrige doringdraad was omdat die vrees daarvoor my gedagtes só oorheers het dat ek daarin vasgery het – dit het my fokus weggeneem van die pad waarop ek gery het. En my grootste vrees is bewaarheid – deur my eie toedoen.

Dit is ook hoe ons lewens is. Daar is so baie moontlike gevare wat ons bedreig, probleme wat ons moet oorbrug, dat ons geneig is om ons fokus daarop te plaas en weg te kyk van dít wat regtig saak maak. Soos Petrus neem ons ons fokus weg van Christus, ons Leidsman, en plaas ons ons fokus op die storms en probleme van die lewe (vgl Matt 14:28-29).  Dit is dan juis dít wat sal veroorsaak dat die storms van die lewe die oorhand kry oor ons gees.

As ons dan hierdie jaar nuut begin, dan moet ons ook ons manier van dink vernuwe. Ons moet ons fokus reg instel, anders gaan hierdie jaar nog net meer littekens op ons nalaat.

Laat ons in die jaar wat voorlê ons oog gevestig hou op Jesus Christus, ons Leidsman en die Voleinder van ons geloof, want Hy wys vir ons die weg aan.

Ruwe storme breek in woede,
alles om my heen is nag;
tog hou God my in sy hoede -
Hy hou oor my heil die wag.
Kon ek soms sy hulp nie sien nie,
ook sy liefde nooit verdien nie,
het sy Gees my steeds gelei;
staan Hy my in alles by.
(Gesang 253:7).

-dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css