Die Weg

 

Geloof: die volle aanvaarding van God se wil in jou lewe!

“Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.” - Hebreërs 11:20.

En dis nie al nie. Rebekka was net een keer swanger, deur ons voorvader Isak. Toe haar kinders nog nie gebore was nie en ook nog niks goeds of kwaads gedoen het nie, toe is al vir haar gesê: 'Die oudste sal die jongste dien.'“ - Romeine 9:10-11.

Toe skrik Isak geweldig en sê: Wie is dit dan wat wild gejag en vir my gebring het? En ek het van alles geëet voordat jy gekom het, en hom geseën - ook sal hy geseënd bly!” - Genesis 27:33 OAV.

Volgens Hebreërs 11 gaan geloof oor die hoop en vérsiendheid van die toekoms, en ongeloof gaan oor kortsigtigheid en die eiewilligheid van die mens. Isak het ook sy eie voorkeure gehad oor watter een van sy twee seuns hy wou seën met die oog op die toekoms. Maar die Here laat hom buig voor die wil van God.

Om ons te laat buig in aanvaarding van sy wil, laat God ons baie keer presies die dinge beleef wat ons nie graag wil nie. Dit maak ons oë oop vir sy wil. Die toekoms is immers in sy Vaderhande - as dit nie so was nie sou ons 'n hopelose en selfs wanhopige spul mensies gewees het.

Nou weet ons egter dat die Here die toekoms vir ons in sy almag bepaal het en ons dit in eenvoudige, kinderlike geloof kan verwag dat Hy ons ook daarheen en daarin sal lei.

(Luister hier na die volledige boodskap)

Ds Maarten van Helden
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css