Die Weg

 

Vir die gelowige gebeur niks toevallig nie

“'n Ruk nadat Josef in die tronk gesit is, het 'n skinker en 'n bakker van Egipte se koning verkeerd opgetree teenoor hulle koning. Die farao het kwaad geword vir sy twee amptenare, die hoof van die skinkers en die hoof van die bakkers. Hy het hulle in dieselfde tronk laat sit waarin Josef opgesluit was, in die gebou van die koninklike lyfwag. Die hoof van die lyfwag het Josef vir hulle beskikbaar gestel: hy moes hulle bedien.” - Genesis 40:1-4 NAV.

Die farao se skinker en bakker beland saam met Josef in die gevangenis. Later sou dit duidelik word dat dit deur God self so bestier is. Niks gebeur in elk geval toevallig nie. Ons glo nie aan die toeval of noodlot nie, maar in die albestuur van God wat alles op aarde laat plaasvind ooreenkomstig die raad van sy wil (Ef 1: 11). Alles ontwikkel volgens 'n vaste plan. Daarom was dit ook nie toevallig dat juis dié twee saam met Josef in die gevangenis sou wees nie.

Dit is hierdie vaste wete wat in tye van krisis aan die gelowige die nodige kalmte en gemoedsrus gee om sy dagtaak voort te sit en die wedloop met die oog op Christus te loop (Heb 12:1, 2) soos een wat nie onseker is nie (1 Kor 9: 26). Daarom kon Asaf, al het hy met die skynbare ongelykheid van die lewe geworstel, met groot vertroue sê: "Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand. U lei my met u raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem." (Ps 73: 23, 24). Vir 'n kind van die Here is dit 'n gerusstellende gedagte om te weet dat God die hele groot wêreld in sy hande hou.

Natuurlik het Josef, menslik gesproke, hierdie twee toevallig raakgeloop, net soos dit van die priester in die gelykenis van die goeie Samaritaan gesê word: "Dit gebeur toe dat daar 'n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby.” (Luk 10: 31). Maar so gebeur dinge nie vir God nie. Alles word doelbewus deur Hom beplan.

Die skinker sou later die middel in die hand van God wees om Josef uit die gevangenis te bevry. Ook op ons pad word dikwels mense gebring wat doelbewus so deur God bestel word, terwyl ons veel later eers verstaan waarom dit presies so moes gebeur.

Ons as gelowiges weet nie alles nie en kan dinge nie vooruit sien kom nie. Maar dit is heerlik om te weet dat God ons by die regterhand gevat het en ons lei volgens sy bepaalde raad. En aan die hand van God is ons altyd veilig al wil dit somtyds voorkom asof God ons vergeet het; asof Hy nie vir ons omgee nie. Ook in ons vernedering is ons in die skoot van dié God (vgl Fil 4: 11, 12) wat nooit laat vaar die werk van sy hande nie. Hy sal ons nooit begewe en ons nooit verlaat nie! (Jos 1:5).

Uit: Word 'n wenner, deur dr Willie Marais (Met die vriendelike toestemming van Aktuapers)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css