Die Weg

 

Wanneer alle raaisels vir ons opgelos sal word

En toe die koningin van Skeba die gerug van Salomo hoor in verband met die Naam van die HERE, het sy gekom om hom met raaisels op die proef te stel.” - 1 Konings 10:1 OAV.

Waarom het die koningin van Skeba die lang pad aangedurf om koning Salomo te besoek, en hoekom het sy aan die einde van haar besoek weer tevrede na haar land en haar huis teruggekeer? Was daar meer in haar besoek as om met raaisels die wysheid van Salomo te toets? Het sy dalk antwoorde gesoek op die raaisels van die lewe waarvoor 'n mens wysheid nodig het wat dieper strek as die menslike kennis? Soos: waarom lewe ek? Watter sin is daar in lyding? Wat word van my as ek sterwe en moet ek daardie pad alleen loop?

Salomo was nie net slim nie, maar hy kon ook met groot wysheid redeneer. Hierdie wysheid het hy ontvang deur na God te luister en te glo wat hy van Hom gehoor het. Dit is met hierdie wysheid wat hy die koningin van Skeba kon antwoord.

Maar koning Salomo is lank nie meer met ons nie. Ons kan nie meer na hom toe gaan om antwoorde op óns raaisels te verkry nie. Ons het egter Iemand veel beter: ons lewe nou in die tyd van die Nuwe Testament. Die profesieë van die Ou Testament het in vervulling gegaan en ons het 'n groter Koning as Salomo: “En hier staan Een wat groter is as Salomo!” (Matt 12:42 NAV). In Christus is God self by ons. By Hom kan ons antwoorde op al die vrae van die lewe verkry. En as ons dan nie al die antwoorde op hierdie oomblik kan kry nie, dan wel wanneer ons eendag ten volle met Hom verenig sal wees.

“Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.”(1 Kor 13:12).

- dw -

(Met erkenning aan Inge Rethemeier, Herscheid, Duitsland).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css