Die Weg

 

By die aanbreek van die nuwe dag

Die evangelie vertel aan ons dat ná die dood van Jesus sommige van sy dissipels na die See van Tiberias teruggekeer het om weer hul ou beroep as vissermanne te hervat. Dan, wanneer hulle na 'n besige nag teen die eerste lig van die nuwe môre land toe vaar, sien hulle Jesus op die strand staan.

Teen dagbreek het Jesus daar op die strand gestaan”, sê die evangelie (Joh 21:4 Direkte vertaling). Dit is een van die mooiste beelde wat ons het om ons eie opstanding te beskryf en waaraan ons kan vashou. Noudat my lewe na sy einde toe staan, ervaar ék dit só asof ék in die vroeë môre by eerste lig op 'n bootjie staan en Jesus sien.

Wie só in die boot staan en die nuwe daeraad tegemoet vaar, kan ná die nag van aardse sorge en stryd 'n nuwe lied begin sing: die Lied van Dankbaarheid. Dit gee vir jou moed om uit die boot uit te stap, voet aan wal te sit en te weet dat jy op die punt staan om 'n nuwe lewe te begin.

Hierdie beeld lei jou oor die water van die dood, dáárheen waar alles vir jou in vervulling gaan en vir jou sal aantoon wat die werklike doel van jou lewe was. Daar waar Christus reeds aangekom het om op jou koms te wag. En dit gee nie net vir jou hoop nie, maar ook nuwe moed vir die res van jou lewensweg.

Jörg Zink: Auferstehung - und am Ende ein Gehen ins Licht. (verwerk)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css