Die Weg

 

Lamp vir my voet

“U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.” - Psalm 119:105 OAV.

Psalm 119 beskryf God se Woord as “'n lamp vir my voet”. Dit is “lamp”, nie 'n skynende son nie, ook nie 'n ligtoring nie, maar 'n eenvoudige lamp of lantern. Iets wat jy met jou hand kan dra. (Die olielampe van daardie tyd het nie baie ver geskyn nie).

Dit is 'n lamp “vir my voet”, wat net ver genoeg skyn om die klein stukkie pad te verlig waarop ek die volgende tree moet gee.

Die wet van goddelike leiding is “tree vir tree”. Iemand wat met 'n outydse lamp of lantern in die donker loop, kan slegs een tree voor hom sien. Maar soos hy die tree gee, neem hy sy lig saam met hom en dit wys vir hom waar hy sy voet weer die volgende keer kan neersit. Sodoende bereik hy sy eindbestemming veilig - een tree op 'n keer - sonder dat hy nodig gehad het om een tree in die donker te gee. Dit  is ook hoe God mense lei.

As dit dan die manier is waarop God ons lei, is dit nie vir ons moeilik om te bepaal wat ons moet doen nie. Dit is nie iets wat ver voor ons lê nie. Ons moenie ons taak doer vêr in die onbekende toekoms gaan soek nie. Dit is hier voor ons, voor ons voete. Dit is nie iets buite ons gesigsveld waar ons dit nie kan raaksien nie. Ons moenie dinge probeer najaag en ons bekommer oor dinge wat nog in die duisternis van onsekerheid lê nie. Miskien sal ons later daarby uitkom wanneer die lig daarop val. Ons taak en ons plig is nou en hier. Want as ons die bietjie doen wat vir ons duidelik is, sal ons die lig voort dra en dit sal vir ons wys wat ons volgende stap moet wees.

Jesus het gesê: “Wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie” (Joh 8:12).  Om Christus te volg - sonder om vrae te vra en sonder om te twyfel - neem al die onsekerheid uit die Christen se lewe en gee ongestoorde vrede. Daar is geen oomblik wat ons nie 'n plig het om na te kom nie. As ons ná aan Christus lewe en Hom streng navolg, sal ons nooit twyfel wat Hy elke oomblik van ons verwag om te doen nie.

Ons daaglikse gebed moet wees: “Maak my voetstappe vas in u Woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie.” (Ps 119:133).

J R Miller (1840 - 1912)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css