Die Weg

 

Om ons Herder te volg waar Hy ons lei

En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie” - Mattheus 9:36 OAV.

My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.  En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” - Johannes 10:27-28 OAV.

“My skape!” Ons Here Jesus noem ons “sy skape”. Elders sê Hy: “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape”.(Joh 10:11). En nou weer: “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My”. Dit spreek van die liefdevolheid en sorgsaamheid van ons Here. Dit is ook 'n heilsame, bevrydende en onbreekbare verhouding waarop ons kan vertrou.  Alles wat die Here Jesus sê is 'n lewende uitdrukking van sy liefde. Daarom luister ons na Hom en volg Hom.

Om na die sorgsame en liefdevolle stem van ons “Goeie Herder” te luister, beteken dat ons in Hom glo en weet dat Hy ons ken en sy aardse lewe uit liefde vir ons opgeoffer het. Die weg waarlangs Hy ons lei, lei nie na 'n afgrond nie, maar na die ewige lewe saam met Hom. Selfs al gaan hierdie aardse weg van ons deur dorings en deur die woestyn, sal ons behoue anderkant uitkom. Sy stem, sy woord begelei ons.

As ons vandag na sy stem luister, kry ons weer 'n nuwe perspektief op die lewe en daarmee ook weer vertroostende kalmte. “Julle het immers soos skape rondgedwaal, maar nou het julle teruggekom na julle Herder en die Bewaker van julle lewe” (1 Pet 2:25 NAV).

- dw -

(Met erkenning aan H Klingler, Bad Urach, Duitsland)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css