Die Weg

 

God se vaderlike ontferming

“Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. ” - Psalm 103:13.

Dit is diep woorde, trefwoorde, hierdie! Vaderlike ontferming - die inhoud is 'n skat. Dit maak nie saak hoeveel kinders 'n vader het nie, hy ken elkeen op sy naam, dra elkeen in sy hart, behandel elkeen na sy besondere behoefte en persoonlike aanleg. 'n Vader weet hoe om sy kinders aan te spreek om hulle in hulle hart en gewete te raak.

So ken die Here elkeen wat Hom vrees. Hy ken elkeen van ons (Jes 43:11). Hy bemoei Hom met elkeen op 'n besondere wyse. Hy weet wat se maaksel ons is (Ps 103:14). God is ons Vader wat ons geskep het en steeds lei en bewaar.

Vaderlike ontferming bring ook die trou van God na vore. Hy verander nie met die jare nie. Hy verkoel nie in sy liefde nie. Sy entoesiasme neem nie af nie. Sy Vaderhart is groot genoeg om 'n ereplek te gee. Hy sprei sy vleuels oor ons uit om ons te bewaar en te beskerm (Ps 91:4).

Vaderlike ontferming sien ons waar God Hom nie skaam om ons sy kinders te noem nie (Heb 2:11).  Al is ons ook soos verlore seuns wat alles deurgebring en vermors het, en met gebroke hart voor Hom staan, dan is dit sy arms wat ons teen Hom vasdruk (Luk 15:20). Sy Goddelike wyse van omgee rig Hy tot sy kind wat gestruikel het; sy oor luister na sy besware en moeite en agter sy regverdigheid glinster in sy oë 'n wêreld van liefde.

Hierdie vaderlike ontferming is geweldig sterk. Hier is geen broosheid en swak skakels nie, maar opbeurende krag. Dit is 'n ontferming wat gebrokenes op vaste grond laat staan en hulle vervul met sy Gees. Dit is deur hierdie vaderlike ontferming dat ons elke dag met lofliedere in die hart kan leef onder die alsiende oog van ons hemelse Vader.

Ds M.J. Smidt
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css