Die Weg

 

Vader van groot barmhartigheid (2)

(vervolg van die vorige boodskap)

“.... die Vader van ontferminge [barmhartigheid] en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word” - 2 Korintiërs 1:2-4 OAV.

Paulus noem die Vader van ons Here Jesus Christus nie net “Vader van barmhartigheid” nie, maar ook “die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking”.

Waarom het ons die troos van God nodig? Omdat ons verdrukking beleef. Die Griekse woord beteken letterlik “druk”. Ons het allerhande druk in die lewe. Die Bybel sê: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.” (Hand 14:22).

Waarom is dit so? Kon God ons nie die baie lyding, swaarkry en teleurstellings gespaar het nie? Dit is immers wat die welvaart-evangelie wil hê dat ons moet glo. Daarvolgens rol God al die klippe uit die pad van sy kinders, sodat hulle net volkome geluk mag hê. Maar wie die Bybel lees, sien iets heel anders, soos in ons teks hierbo. Dit sê nie: “...... wat ons spaar van alle verdrukking ...” nie, maar “.... wat ons troos in al ons verdrukking”.

Maar waartoe dan al die leed en droefheid in ons lewe as Christene? Waartoe lei dit?

1) Dit wys ons op ons nietigheid. Wanneer ons met probleme gekonfronteer word, wanneer ons voel dat ons nie verder kan nie, erken ons ons eie swakheid, ons onmag en beperkinge. Lyding vernietig ons grootheidswaan en wys vir ons dat ons klein, hulpelose mense is. Die Bybel leer dat dit goed is vir ons as ons immer weer aan ons werklike afkoms herinner word. Nood en lyding bring wysheid en bring ons terug na die werklikheid. “Om ons lewensdae na waarde te skat – dit moet U ons leer, sodat ons 'n hart vol wysheid kan verwerf” (Ps 90:12 direkte vertaling). Dit bewaar ons van grootheidswaan en maak ons nederig. Is dit goed? Natuurlik!

2) Dit dring ons na Christus. Saam met verdrukking kom vertwyfeling. En waarheen wend God se kinders hulle as hulle in vertwyfeling raak? Na Jesus. Paulus stel self vir ons 'n voorbeeld: “Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het. Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek” (2Kor 1:8-9 OAV).

Paulus en dié by hom het hulle in 'n noodtoestand bevind. Dit was so erg dat hulle vir hul lewens gevrees het en hulle geestelik vir die ergste voorberei het. Maar Paulus sien desondanks 'n goddelike rede vir hierdie doodsgevaar. Hy skryf:  “sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek”.

Lyding en nood versteur ons selfversekerdheid om plek te maak vir Godsvertroue. Selfversekerdheid is vandag die heilsleer van die sielkunde. Maar die Bybel sê dat selfversekerheid 'n vloek is: “Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk.” (Jer 17:5). Wie dus op mense of op homself vertrou sal tot skande word.

3) Dit wek by ons 'n meegevoel vir ander mense in soortgelyke situasies, sodat ons vir hulle tot seën kan wees. Want Paulus skryf: “.. die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos.... Maar of ons verdruk word, dit is julle tot troos en redding; en dit laat sy werking blyk deurdat julle dieselfde lyding verduur wat ons ook ondergaan; en of ons getroos word, dit is julle tot troos en redding.” ( 2 Kor 1:3-6).

Die lyding wat ekself deur jare van depressie moes deurstaan, dien vir baie ander tot troos as hul hoor hoe God my deur alles gedra en gehelp het. Dink ook aan Job. Hoeveel troos sou nie verlore gegaan het as hy nie deur daardie lyding gegaan het nie!

Iemand wat nooit self gely het nie, kan ook nie troos nie en soek dikwels 'n oorsaak of skuld agter alles. Hulle is nie goeie sielesorgers nie.  “Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.” (Heb 4:15).

Jesus het verdrukking, vervolging, droefheid, pyn en doodsmart ondervind soos ons. Daarom is Hy die voortreflikste sielesorger - “die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking”.

ds Wolfgang Wegert (Fernsehkanzel 14/9/2014) (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css