Die Weg

 

Ons dankbaarheidslewe

“Was daar niemand onder hulle wat omgedraai het om God te verheerlik behalwe hierdie vreemdeling nie?” - Lukas 17:18.

Hier is 'n hartverskeurende aanklag van Jesus teen nege melaatses wat nie die ordentlikheid gehad het om hulle dankbaarheid teenoor Hom te kom betuig vir die genesing wat Hy aan hulle geskenk het nie.

In hierdie gebeurtenis van die genesing van die tien melaatses waarvan net een persoon, 'n Samaritaan, teruggekom het om dankie te sê, sien ons 'n roekelose stuk ondankbaarheid van negentig persent van diegene wat 'n wonderlike weldaad van Jesus ontvang het. 'n Mens kan Jesus se teleurstelling des te beter begryp as jy dink aan die verskriklike siekte waarvan hierdie ongelukkige mense genees is. 'n Melaatse is in die Bybelse tyd as 'n onreine beskou en letterlik uit die gemeenskap geskop. Na hulle genesing kon die melaatses weer 'n normale lewe voer.

Dit is helder en duidelik dat die Here Jesus van ons dankbaarheid verwag. Dankbaarheid wat daarin bestaan dat ons God sal verheerlik. Dit beteken dat ons sy Naam sal loof en prys en groot maak. Dit word nie alleen in ons lied en gebede gedoen nie, ja, natuurlik dit ook, maar veral in ons dade en in ons lewe. Ons vereer God as ons 'n lewe voer in ooreenstemming met sy wet, as ons gehoorsaam is. Dit gebeur dikwels dat ons aan iemand wat 'n buitengewone goeie daad aan ons gedoen het, 'n geskenkie oorhandig. Hoeveel te meer moet ons aan Hom wat alle goeie gawes en volmaakte gifte elke dag aan ons uitdeel, nie ons lewe en talente gee nie. Dit is ons dankie aan God.

“Laat ons wat 'n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil.“ (Heb 12:28).

Gebed: Here, ons loof en prys u heilige Naam dat U die opstanding en die lewe is. Amen.

Uit: Lig en lewe 1978.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css