Die Weg

 

Hy is onse God vir ewig en altyd

“Gaan rondom Sion, trek daaromheen, tel sy torings; let op sy skanse, wandel deur sy paleise, sodat julle dit aan die volgende geslag kan vertel, dat hierdie God onse God is, vir ewig en altyd; Hy sal ons lei tot die dood toe” - Psalm 48:12-14 (OAV).

In Psalm 48 jubel die Koragiete oor die Godstad Jerusalem. Maar as ons dit mooi lees, sien ons dat dit nie gaan oor die stad self nie, nie oor die sigbare tekens van mure en skanse nie, nie oor die paleise en oor die tempel nie, maar oor God se teenwoordigheid. Hier het God Hom geopenbaar as die beskermer van sy volk solank as wat hulle aan Hom gehoorsaam was. Die stad self sou immers later tot op die grond verwoes word toe die volk hulle weggekeer het van hulle God. Maar terwyl die volk uiteindelik weens hul sondes in ballingskap weggevoer is, was God nog steeds by hulle. Hy het steeds getrou gebly aan sy verbond met sy volk. Hy verander nooit.

God heers oor ons en Hy is vir ons 'n beskutting: “onse God vir ewig en altyd”. Hy is verhewe bo tyd en ruimte. Op Hom alleen kan ons vertrou – in elke tyd en in elke situasie! Dit was ook die ondervinding van baie gelowiges wat die wreedhede van die Tweede Wêreldoorlog moes deurstaan. Lees gerus weer Ds Gabe van Duinen se artikel: “Heila, hola, moenie moed opgee nie” op Die Weg se webwerf .

Ook wanneer ons beleër is deur onreg en vyandigheid, van angs en vrees, sal ons nie moed verloor nie. Want as kinders van God is ons oog en vertroue gerig op God wat “ons lei tot die dood toe”. En wanneer al ons aardse bouwerk eendag tot niet gaan, bly daar vir ons nog die troosvolle woorde Christus oor: “Wie oorwin, Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam” (Open 3:12 OAV).

- dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css