Die Weg

 

Die regte begrip van God gee die regte uitkyk op die lewe

Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.” - 1 Timoteus 1:17.

Baie mense loop met 'n verkeerde beeld van God en kan dan nie verstaan dat hul geloofslewe stomp en sonder innerlike krag is nie. Afgesien van wat ons oor God uit die Skrif bely, het elke mens tog ook 'n sekere idee van God soos wat jy sy hand in jou lewe ervaar. Jou idee oor God is báie keer totaal anders as wat die Skrif leer en jy besef nie dat dit jou hele geloofslewe kan besoedel nie.

Jy kan voel dat jy van die môre tot die aand moet swoeg en sweet sonder om sukses of vooruitgang te sien. Dan lyk God vir jou na 'n harde, ongevoelige Vader, want Hy doen niks om jou saak te verbeter nie. Die gevolge van so 'n verkeerde beeld van God is vernietigend vir jou geloofslewe:

* Jou daaglikse werk is dan nie meer 'n vreugde nie, maar 'n plig.

* Jou aanbidding is dan halfhartig want sy Woord en Gees sê vir jou niks.

* Jy het nie meer vrymoedigheid om in die gebed na so 'n God te gaan nie.

* Jy het niks om oor so 'n God te vertel nie en jou getuienis raak stil.

Maar in die eerste brief aan Timoteus kom Paulus en hy vertel hoe hy God werklik leer ken het. Hy is 'n ware, liefdevolle Vader. Paulus verdien nie eers om deur God raakgesien te word nie, want hy het God se kerk vervolg en belaster. Nogtans het God hom betroubaar geag om in Sy diens te staan. God het van Paulus 'n voorbeeld gemaak en gewys met hoeveel liefde Hy sondaarmense hanteer.

Wie God so sien, besef: wat ons in die lewe bereik het, hoe ons na al die jare oorleef het - dit alles is genade. Dan kan jy mos jou lewe met vertroue in so 'n God se hande lê. In Christus gereinig van sondes is ons mos nie meer slawe nie, maar Sy kinders. Dit gee 'n gesonde uitkyk op die lewe van elke dag.

Dr. J.L. Venter
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css