Die Weg

 

Die kragtige getuienis van gelowiges se volharding

Daarom, broers, het ons in al ons nood en swaarkry weer moed geskep vir julle omdat julle nog glo. Omdat julle vas staan in die Here, leef ons nou weer werklik” - 1 Tessalonisense 3:7-8.

Gevare het die gemeente van Tessalonika bedreig, daarom stuur Paulus vir Timoteus om te gaan kyk hoe dit met hulle gaan. Hy onthou nog hoe hulle onder moeilike omstandighede die Woord met blydskap van die Heilige Gees ontvang het. Die gemeente was 'n voorbeeld van ware gelowiges in die wêreld van daardie tyd. Die gevaar het egter bestaan dat die beproewinge en die vervolging van die Satan hulle geloof kon laat wankel. Paulus kon nie toelaat dat die gelowiges weer deur hul omgewing verlei word en God se genade daardeur verwerp word nie.

Timoteus gaan om hulle te bemoedig en te versterk, en keer terug met 'n baie positiewe verslag. Hulle beskik nog oor die volle krag van hul Christelike geloof en liefde. Hulle onthou goed wat hulle geleer het en volhard steeds in die navolging van Jesus Christus. Met 'n onwrikbare vaste vertroue op God se almag in hul lewe het hulle hul nie deur hul omgewing laat verswelg nie. Die sigbare tekens van die Gees se leiding kon in hulle lewe gesien word. Dit het getuig van bestendige groei en 'n sekere vastigheid waaroor die ander inwoners van Tessalonika nog nie beskik het nie. Dit wat Paulus gehoor het, het hom verder versterk om sy werk met vreugde te gaan doen.

Ons eie geloofslewe is ook 'n getuienis vir ander mense. Geen persoon of gemeente leef op 'n eiland nie. As jy voorspoed en sukses beleef, laat dit dan sigbaar wees dat jy dit met dankbaarheid uit God se hande ontvang. Loof Hom daarvoor en laat jou dankbaarheidslewe 'n getuienis wees vir ander mense. Daarteenoor sal almal van ons die een of ander tyd voor ernstige beproewinge te staan kom. Laat ons dan ons kruis met waardigheid dra sodat ons ander kan aanvuur om standvastig te bly staan in húl uur van beproewing. Staan sterk teen die Satan en blaas so geesdrif in ander wat al moed wil verloor.

Wat sien mense by ons, wat hoor hulle by ons om hulle verder op hul pad mee te versterk?

Dr JL Venter
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css