Die Weg

 

Niks gebeur per toeval nie

"Werp jou sorg op die Here, en Hy sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie" – Psalm 55:23 OAV.

'n Mens wonder soms of ons altyd die waarde van hierdie heerlike waarheid ten volle besef, nl. dat niks per toeval oor ons lewe kom nie; dat niks met ons sal gebeur sonder dat God dit toelaat nie; dat God voorsien en sorg vir alles in die lewe van die gelowige. In tye van smart, besorgdheid oor dierbares, eksamens, siekte, geldelike bekommernis kan ons die absolute sekerheid hê dat God daarvan weet, dat Hy nie onverskillig daarteenoor staan nie en op Sy tyd sal voorsien! Wanneer dit donker word om ons kan ons met gerustheid ons in God se hande plaas en rustig ons oë sluit soos 'n klein kindjie in die arms van sy moeder.

Hierdie waarheid van God se sorg is 'n onuitspreeklike troos, want dit is wat dit inderdaad is. Die Psalmdigter weet waarvan hy praat as hy sê: "Werp jou sorg op die Here, en Hy sal jou onderhou". As teëstanders jou omring en teëspoed jou oorval, kan jy jou sorge op Sy skouers aflaai, en op Hom leun wanneer al die pyn en kommer te swaar word. Elkeen van ons, hoe klein of onbelangrik jy jouself ookal beskou, maak deel uit van God se grootse plan met hierdie wêreld. In Sy oë is jy belangrik en daarom gee Hy om wat met jou gebeur. Om te bewys hoe belangrik Hy elkeen van ons ag, het Hy sy geliefde Seun vir ons gegee. Hy was bereid om sy enigste te gee vir hierdie wêreld en watter bewys is dan nog meer nodig om aan te toon dat Hy omgee wat met die wêreld gebeur?

In 'n wêreld vol onrus, onsekerheid en vrees vir die onbekende toekoms, het die gelowige 'n vaste anker van sekerheid in die wete dat sy lewe veilig geborge is in God.

Gebed: Nie net ons sorge, o Here, maar ons hele lewe wil ons in U hande werp. Amen.

Met erkenning aan “Lig en Lewe” onder redaksie van RJN van Tonder.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css