Die Weg

 

As alles rondom my onseker raak, laat my God my vas staan

Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok; op hoë plekke laat Hy my stewig staan” - Psalm 18:34.

Vir Dawid was daar baie dinge wat sy lewe bedreig het, van kleins af as skaapwagter in die veld, maar ook in die tyd voor en nadat hy koning geword het. Hierdie Psalm beskryf sy vaste vertroue in God met 'n verskeidenheid van beeldspraak. God is sy rots, met God spring hy oor 'n muur, maar hy vergelyk dit ook met die wild in die veld.

Dit beskryf die vermoë wat sy God aan hom gee om oorlog te maak. Sy voete staan vas, hy is veilig op 'n hoë plek en sy arms kan die regte wapens hanteer. Was dit nie daarvoor nie, sou hy geen oorwinning kon behaal nie.

Watter uitdagings daar ook al vandag vir ons wag, vra dit van ons eerlikheid oor twee dinge:

=> hoe groot die bedreiging is,
=> maar ook dat ons nie op ons eie kragte kan staatmaak nie.

Vir elkeen wat deur Jesus Christus God se kind geword het, is daar egter nog 'n werklikheid: Jy is nooit alleen in die stryd nie. Jy kan ook in die geloof bely: "Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok; op hoë plekke laat Hy my stewig staan" (Ps 18:34). Let op: dit is Hy, die Here, wat die verandering bring. Hy maak my voete gereed vir die stryd. Hy laat my stewig staan, sodat ek die vyand se aanslag kan sien en my kan verdedig.

Jy kan vandag met sekerheid aandurf, maak nie saak wie jou vyand is nie. Met die krag en vaardighede wat God jou gee, sal jy staande kan bly.

Versterk jou band met Hom. Oefen jou geestelike gawes in jou binnekamer, sodat jy daar buite stewig kan staan.

Leer ken God se almag en sy genade vir sy kinders uit sy Woord. Maak sy beloftes jou eie. Hy kan en wil jou staande laat bly. Moenie die stryd alleen aanpak nie!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief 4/8/2014)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css