Die Weg

 

Die ewigdurendheid van die Kerk van Christus

“... My gemeente..... en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.”  - Matteus 16:18 OAV.

'n Digter het die lewe van die mens vergelyk met skuimborrels wat deur die see op die strand uitgestoot word: vir 'n oomblik is dit daar, maar dan verdwyn dit en kom ander weer in die plek daarvan. Ja, die geskiedenis van volke, sê hy, is niks meer nie as golwe wat in die diepsee oprys, groter word, breek en dan op die sand uitspoel. Dink 'n mens so oor die verganklikheid van al ons pogings en planne, van al ons menslike arbeid en inspanning, stem dit ons tot somberheid. Wat bly per slot van rekening oor van alles waarvoor ons ons dag na dag afsloof? Waarvoor vermoei ons ons tog so?

Maar dan word ons herinner aan die feit wat ons vandag met blye verwondering mag bely: deur die eeue heen loop die lyn van God se duursame werk. Mense word gebore en sterf, volke en kulture kom en gaan, maar die Kerk van Jesus Christus bly.

Dit begin al so ver terug as wat die wêreld bestaan. Vroeg, heel vroeg reeds, aan die begin van die geskiedenis, was God al met ons as mense besig. Solank as die geskiedenis voortduur, sal daar nooit 'n dag aanbreek waarop die Kerk as iets uit die antieke tyd beskou sal word en mense nooit daaraan sal dink nie. Tot die einde toe sal die Kerk daar wees.

As ons rondom ons kyk, word ons partymaal benoud. Dit lyk soms of ons in 'n wêreld leef wat elke dag minder aan God dink en vir Hom omgee. Waar sal dit tog alles eindig? Hierop het Jesus self die antwoord gegee toe Hy sy Kerk geplant het: “Die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie”.

Met erkenning aan “Lig en Lewe” onder redaksie van RJN van Tonder.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css