Die Weg

 

Om nie besmet te word nie

Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” - Efesiërs 6:12 OAV.

Ons is betrokke in 'n geestelike konflik, 'n geveg tussen die magte van God en die magte van Satan. Ons moet kant kies. Satan se leuens is vernuftig vermeng met die waarheid. Toe hy Christus versoek het, was hy oortuigend logies en het selfs die Skrif aangehaal. Daarom stel die Bybel voor dat ons heeltemal breek met die bose dinge van die wêreld en ons daarvan afsonder: "Gaan van hulle af weg en sonder julle af," sê die Here, "en moenie wat onrein is, aanraak nie. Dan sal Ek julle aanneem ... "(2 Kor. 6: 17).

Jesus het wel saam met tollenaars en sondaars geëet (vgl. Mark. 2: 16), maar sy verhouding met hulle was nie ter wille van sosiale omgang nie, dit was om hulle te red. Net so wil God nie hê dat ons deel moet word van die wêreld nie, maar ons moet teenoor die wêreld getuig. Ons moet die mense van die wêreld liefhê, want God het hulle lief. Ons moet treur saam met die wat treur (vgl. Rom. 12:15), ly saam met die wat ly, en ons identifiseer met diegene in nood.

Dis dan ons probleem: om met diegene wat in die wêreld is, te meng en hulle lief te hê sonder om besmet en beïnvloed te word. Ons kan dit net regkry deur 'n intieme wandel met Christus, voortdurende gebed, en die ononderbroke leiding van die Heilige Gees. God het aan ons die krag voorsien om die mag van die wêreld te weerstaan en ons daarvan af te sonder. Ons moet net elke oomblik van ons lewe daardie krag gebruik. Ons is in die wêreld, maar die wêreld moenie in ons wees nie. Dis goed vir 'n skip om op see te wees, maar dis sleg as die see in die skip inkom. Ons Here Jesus het gevra: "Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar" (Joh. 17: 15).

Gebed: Ons Vader en ons God, ek bid dat U oor my die wag sal hou. Beskerm my teen die bose invloede van my wêreld. Help my om met Jesus te wandel en elke dag gelei te word deur u Gees om in die wêreld te wees maar nie van die wêreld nie. In Jesus se Naam. Amen.

Uit: “Na hoër hoogtes” deur Billy Graham.  Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).
 

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css