Die Weg

 

Om positief te bly in 'n negatiewe wêreld

“Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig”. - Filippense 4:8.

Die media van vandag is daarop uit om negatiewe nuusberigte deur te gee. 'n Mens sien en hoor net van alles wat verkeerd is in die wêreld: bende geweld, moord op onskuldige mense, korrupsie, diefstal, gewapende roof, oorloë en noem maar op.

Hierdie negatiewe beriggewing kan 'n mens se hele lewe maklik negatief stem. Ons hoor maar selde van die positiewe dinge wat in ons land en die wêreld gebeur. Inherent is dit seker ons eie skuld, want dit is juis die media waarna ons kyk en luister wat hierdie negatiewe en sensasionele dinge aan ons voorhou.

In Spreuke 4:23 staan: "Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan want dit bepaal jou hele lewe". Ons moet dus versigtig wees wat in ons hart - dit wil sê ons gedagtes - aangaan, want dit bepaal ook hoe ons leef. As ons gedurig aan die negatiewe en verkeerde dinge dink, is ons lewe ook negatief en kom dit tot uiting in ons handel en wandel.

Daarom dat Paulus aan ons die opdrag gee om ons gedagtes te vestig op wat mooi en positief is, want dan sal ons lewe ook so wees. As verlostes in Christus het ons mos rede om 'n positiewe lewe te lei. Jesus het ons van die ewige dood kom verlos en aan ons 'n vrede gegee wat alle verstand te bowe gaan, sodat ons positief kan wees, ten spyte van die grootste negatiewe omstandighede. Kom ons haal daarom die negatiewe dinge uit ons gedagtes uit en konsentreer deur die krag van die Heilige Gees daarop om die positiewe te bedink.

Ds M.A.F. Kruger
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css