Die Weg

 

Dit wat ek uit liefde van die Here ontvang het, is pragtig

Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi” – Psalm 16:6 OAV.

In my gedagtes sien ek ‘n pa en seun op ‘n koppie wat uitkyk oor ‘n mooi plaas. Uitgestrekte vlakte, grasryk, pragtige boomwêreld, goeie bos. Pa het vir sy seun gaan wys hoe lyk die plaas wat in sy testament aan hom bemaak is. Lieflik, mooi! Opgewonde en dankbaar sê die seun: “Pa het vir my ‘n ongelooflike stuk grond afgemeet, my erfenis is vir my pragtig!”

So neem die psalm ons vandag tot op die berg en wys vir ons ons erfenis as verbondskinders van God. Kyk wyd, sien raak, probeer begryp wat God in sy verbondsliefde aan jou bemaak. Die testament is geskryf, deur Jesus se offer is die handtekening gemaak. Dis joune! Die psalmdigter bely dat daar vir hom slegs een intieme band met net een God is: “U is my Here; vir my is daar geen goed bo U nie.” (Ps16:2) “Here” beteken hier “eienaar”, ek behoort aan Hom. In Jesus Christus is ons God se eiendom, duur gekoop en vrygemaak van die magte van die Bose. Wie dit glo en daarvan seker is, kan ook seker wees van die pragtige erfenis wat aan jou bemaak is.

In Psalm 16 word verskeie sake aangeraak wat vir vandag nog net soveel waarde het. Die HERE (wat met my ‘n verbond gesluit het) sorg elke dag vir my. Hy maak my beker vol van seëninge. Ek leer ken Hom as my Vader wat elke haartjie op my kop getel het. Hy het sy Woord aan my gegee, waarin ek altyd goeie raad kry. Selfs in die nag as ek wakker lê, kan ek daaroor nadink en wys word (vers 7). Ek hoef selfs nie die dood te vrees nie, want God het mag oor lewe en dood. Jesus het die dood oorwin, sodat die dood geen straf is vir God se kinders nie. Nee, wanneer ek sterf, vertrek ek uit hierdie soms onaangename wêreld na die heerlikheid, wat deel is van my erfenis (vers 10).

Omdat ek so seker kan wees van hierdie erfenis, wat deur God self beloof word, is daar blydskap in my. Groter blydskap as wat silwer en goud kan gee. Daaroor wil ek vandag juig, want niks kan my van my God skei nie. Hy is aan my regterhand. Hy lei my, bewaar my, versorg my en gee altyd nuwe hoop.

Regtig, “die meetsnoere (wat vir my afgemeet is) het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi”!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief 21/7/2014)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css