Die Weg

 

Om die regte klere vir jou kinders te maak

En sy moeder was gewoond om vir hom ‘n klein manteltjie te maak wat sy van jaar tot jaar vir hom gebring het as sy met haar man opgaan om die jaarlikse offer te bring” - 1 Samuel 2:19 OAV.

Watter genot put moeder Hanna nie uit haar werk nie? Haar vingers vlieg rats langs die nate wat deur die liefde geïnspireer is. Kunstig werk sy aan die kleed om uit liefde iets mooi en nuttig vir haar kind te maak.

Dit is nie net moeders nie, maar ook vaders wat manteltjies vir hul kinders gee wat hulle lewenslank sal dra. Hoeveel mans en vrouens is daar nie wat vandag nog die mantels dra wat hul ouers jare gelede vir hulle gesny en gemaak het nie! Mantels wat onverganklik is, mantels vir die siel.

Sedes is die mantels wat die siel beklee. Paulus sê aan die bekeerlinge dat hulle die oue mens moet aflê wat “deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan” (Ef 4:22 OAV) en hulle met die nuwe mens moet bekleewat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef 4:24 OAV). Dit is om die leuen af te lê en die waarheid te praat; om nie toornig te word en te sondig nie; om nie te steel nie maar om met jou hande te werk wat goed is; om geen vuil taal te gebruik nie; om alle bitterheid, woede en toorn en geskreeu en lastering en boosheid te verwyder, en vriendelikheid, ontferming en vergewensgesindheid aan te trek (Ef 4:24-32). Watter beter woorde is daar nie om aan te toon dat sedes die bekleding van die innerlike lewe is nie!

Waar en hoe word hierdie mantels vir die siel gemaak, met ander woorde, hoe word sedes gevorm? Nie half-weg deur die lewe nie, maar by die aanvang van 'n nuwe lewe; nie in 'n groot krisis nie, maar in die alledaagse omstandighede; nie in die arena van die lewe nie, maar tuis binne die omgewing van die vroeë kinderjare. Dit word gemaak uit die vlekkelose kleed van Christus se geregtigheid.

Mag hierdie mantels altyd uitgestal word voor diegene met wie ons daagliks in aanraking kom: deur die ouers se gedrag teenoor mekaar en teenoor hul kinders; deur die ordening in die huislike lewe; deur hul optrede eerder as deur hul woorde; deur die manier waarop hulle praat en hoe hulle hul vrye tyd spandeer; deur hulle huisgodsdiens en gebedslewe – pa's en ma's maak uit liefde klein manteltjies wat in voor- en teenspoed, vir altyd deur hul kinders gedra sal word, en wat die kinders hopelik na die toekomstige geslagte sal oordra.

FB Meyer
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css