Die Weg

 

Hoe lank nog, Here?

“Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here?” - Psalm 13:2

Om te voel dat God jou vergeet het, is ‘n verskriklike ervaring. In ernstige siekte, wanneer jy jou werk verloor het, wanneer jou huwelik uitmekaar val, wanneer familie of vriende wreed vermoor is. Dikwels roep ons in sulke tye in gebed na God en dit voel asof Hy nie hoor nie. Daar is nie uitkoms nie – in elke geval nie soos wat ons gehoop het nie.

In Psalm 13 lees ons die digter se ernstige gebed: “Verlig tog my oë, anders sink ek in ‘n doodslaap weg.” (vers 4). So ernstig was sy nood, dat hy die dood al voel naderkom het. Vier maal vra hy “Hoe lank nog?” Hoe lank vergeet die Here van hom, kyk Hy weg van sy nood, moet hy alleen planne maak en kry geen leiding van Bo nie. Hoe lank sal hy nog onder die vyand moet ly?

Maar tog bid Hy weer: "Luister tog en antwoord my, Here my God!"

Die spanning loop op. Sal daar uitkoms kom? En dan die wonderlike belydenis en lofprysing: “Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart.” (vers 6).

Hierdie Psalm is een van vele, waarin die spanning van ondraaglike nood ten spyte van gebede, gestel word teenoor God se liefde. Waarin lê die ontknoping van hierdie ondraaglikheid? Is daar vir ons hoop, wanneer dit voel asof God ons vergeet het, skynbaar van ons pyn en lyding wegkyk?

Die Gees van die Here lei Dawid in die Psalm om sy oë van sy eie nood af na God se verbondsliefde te verskuif. Dit is waartoe die Here ons ook wil lei. Ons is so geneig om in tye van nood ons blind te staar daarteen. Ons hele wêreld word saamgetrek rondom ons pyn, ons behoeftes, ons vrese. En dan begin leef die leuen in ons gedagtes: God het my vergeet! Nee, in werklikheid is dit ons wat Hom dan vergeet! Daarom moedig hierdie Psalm ons aan om wyer te kyk as net ons eie klein wêreld van hier en nou.

Onthou God se troue liefde! Daar is ‘n lang geskiedenis van sy getrouheid. In die middelpunt daarvan staan die kruis van Golgota. Daar het die Seun van God beleef dat sy Vader Hom werklik verlaat het. So getrou was Hy in sy liefde vir ons, dat Hy sy Seun in ons plek vir ons sondes laat betaal het.  Hy het ons nie vergeet nie, Hy sal ons nooit vergeet nie. Pyn en lyding word draaglik, omdat Jesus in ons plek vir ons sondes gely het. Nood is nooit ‘n teken dat God van ons wegkyk en vergeet nie.

Hierdie sekerheid laat ons te midde van beproewing sê: “Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.” (Ps 13:6).

Wanneer jy bid: Hoe lank nog, Here? onthou dan dat Hy getrou is in sy liefde. Mag Hy ons oë in tye van ondraaglike nood oopmaak daarvoor. Dit is juis Hy wat dan ons krag en sterkte is. Prys en eer Hom vir die goeie, wat selfs in die swaar tye aan ons gebied word.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief 16/6/2014)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css